On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Oranje-aktrise keer op keer bekroon

───   ELSABÉ DE JAGER 12:11 Wed, 20 Sep 2023

Oranje-aktrise keer op keer bekroon | News Article
Akteurspan Dominique, Jenna en Ancois saam met tegniese span Mienke en Lee-Anne, en regisseur Chanmari Erasmus. Foto verskaf

Sy het as gr. 4-leerder, toe sy die rol Heidi vertolk het, reeds geweet sy wil aktrise word.

Ancois Bodenstein, matrikulant aan die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, is die naweek vir die vierde keer in twee maande vereer vir haar spel in die skoolproduksie “Vry”. Sy het die toekenning tydens die eindronde van die FAK Allegretto-toneelfees by die Voortrekkermonument in Pretoria ontvang.

Haar rol, Deidre, was in baie opsigte uitdagend, sê Ancois. Die storielyn is gelaai met ontstellende tonele. Twee jong meisies bevind hulself in China om kinders te gaan onderrig. Hulle raak betrokke by ondergrondse bedrywighede en beland in die tronk. 

Die wisselspel tussen die twee karakters beeld die verskillende hanterings van ’n moeilike situasie uit. Die een meisie besluit om die haglike situasie met moed aan te pak, terwyl die ander, Deidre, haar eie ondergang bewerkstellig deur geen hoop in die donker tonnel te sien nie.

Vir Ancois is dit belangrik om haar karakter met die grootste respek te hanteer. Foto verskaf

Vir Ancois is ontleding van die karakter wat jy vertolk van groot belang. Nóg belangriker is om behoorlik in die vreemde skoene te klim en ’n ent te stap, wanneer jy jouself nog nooit in ’n soortgelyke situasie en plek bevind het soos dié van die karakter nie. Dan eers kan jy lig en lewe in jou karakter blaas. 

Die kommentaar van die beoordelaars by elke fees het bygedra tot verdere karakterontdeling, wat Ancois gehelp het om nóg dieper in die karakter Deidre in te klim.

Omdat “Vry” gegrond is op ’n ware verhaal, was dit vir Ancois belangrik om haar karakter met die grootste respek te hanteer. Van groot hulp was die feit dat ’n vriendin van die ware karakter met die akteurs kom gesels het en so meer insae in die ware omstandighede kon gee.

Spanwerk en vertroue tydens die produksie is noodsaaklik. Foto verskaf

Vir dié jong aktrise is ’n goed gebalanseerde lewe van groot belang. Sy beskou haarself nie as ’n sportmens nie, maar hou daarvan om in die buitelug te wees en te stap. Selfs dán is sy altyd aan’t woeker met die een of ander rol in haar agterkop. Sy het ook ’n groot belangstelling in musiek. Vir haar loop drama en musiek hand aan hand. Sy is ’n fanatiese fliekganger en hou van lees.

Ancha beskou spanwerk en vertroue in medeakteurs as die wenbestanddeel van elke produksie. Al is die toekoms vir haar onbekend, hoop sy dat sy die geleentheid sal kry om vir nog lank deel van ’n kreatiewe span en dramawêreld te kan wees. Wat die onmiddellike toekoms betref, is sy hard aan’t voorberei vir die finale ronde van die ATKV Tienertoneel Nasionaal wat binnekort in Gold Reef City suid van Johannesburg plaasvind.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.