Central SA
ANC-amptenaar in Noord-Kaap geskors ná bewerings van dubbele salaris─── TSHEHLA KOTELI 07:34 Thu, 21 Sep 2023
“Ons behoort te besef die ANC het wetgewing en beleide teen korrupsie ingestel. ANC-leiers moet dit tot elke prys vermy om die wet te oortree.”
Die ANC in die Noord-Kaap het Moses Moalosi geskors ná bewerings dat hy ’n dubbele salaris van die staat kry.
Thabo Mothibi, ANC-woordvoerder, sê die bewerings word nie ligtelik opgeneem nie en Moalosi is as lid van die provinsiale uitvoerende komitee geskors. “Die ondersoek sal bespoedig word. As bevind word dat dit growwe wangedrag was, sal ’n tugverhoor gehou word, en dit kan selfs beteken dat hy uitgeskop kan word.”

Thabo Mothibi, ANC-woordvoerder. Foto: Linkedin
Die voorwaardes van die skorsing sluit in dat hy nie aan werksaamhede en strukture van die ANC sal deelneem nie. “Ons behoort te besef die ANC het wetgewing en beleide teen korrupsie ingestel. ANC-leiers moet dit tot elke prys vermy om die wet te oortree.”
In Maart 2021 het Moalosi as die speaker van die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit bedank. Ná sy bedanking is daar bewerings wat daarop dui hy is moontlik deur die munisipaliteit heraangestel. Volgens rekords wat OFM Nuus gesien het, het die munisipaliteit hom in Februarie, Maart en April maandeliks meer as R35 000 betaal.
Moalosi het op 5 Desember 2022 ’n pos as ’n portefeuljekoördineerder vir die Departement van Landbou aanvaar en op 6 Desember in die Kimberleyse kantoor begin werk. ’n Paar maande later het hy ’n ander kontrak onderteken, wat sy ampstermyn met ses maande verleng het.

Pakes Dikgetsi van Cope.
Sy kontrak as portefeuljekoördineerder is van 1 Junie tot 31 Desember 2023 verleng. Daarin is sy jaarlikse salaris R811 560. Pakes Dikgetsi, Cope- nasionale komiteelid, sê dit was vreemd omdat daar nie in die departement ’n pos vir ’n portefeuljekoördineerder bestaan nie.
Dikgetsi sê sulke poste word dikwels deur kaderontplooiing binne die regerende party geskep om werk te verseker vir partylede, veral individue soos Moalosi, wat ’n amp in die provinsiale uitvoerende komitee beklee.
In die Ministeriële Handboek gedateer 13 April 2023 word wel genoem dat die skepping van ’n portefeuljekoördineerder geregverdig kan word vir LUR'e wat vir spesifieke departemente verantwoordelik is. Dit blyk dié skuiwergat is uitgebuit om Moalosi se kontrakverlenging goed te keur.
OFM News/Tshehla Koteli
