On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Twee jong Bloemfontein-boere sterk aan ná wonde in veldbrand

───   KAREN VAN DER BERG 11:28 Thu, 21 Sep 2023

Twee jong Bloemfontein-boere sterk aan ná wonde in veldbrand | News Article
Raymond (links) en Jannie Steyn (middel) saam met Armand van Staden by die uitgebrande bakkie. Foto verskaf

“Hierdie dinge vat maar aan ’n ou. Ons is wel net dankbaar dat dit nie erger was nie.”

“’n Mens kan jou voertuig vervang. Dit is aardse goed. Maar ons dank die Here dat Hy ons kinders bewaar het,” sê ’n Bloemfonteinse boer, wat groot skade in onlangse veldbrande gely het.

Jannie Steyn (43), se seun, Raymond Steyn (18), en skoonseun, Armand van Staden (26), wat saam net buite Bloemfontein boer, het op 10 September ’n veldbrand probeer blus. Jannie sê die brand het buite die Mangaung-gevangenis ontstaan en versprei na sy huurplaas, Blydskap.

Die uitgebrande Izuzu-bakkie van Jannie Steyn. Foto verskaf

Hulle was al drie op die bakkie. Raymond en Armand het die brandspuit agterop die bakkie beman. “Die wind het skielik gedraai en daar was net rook waar ons kyk. Die vlamme het in ons rigting gekom en ons het daardeur gejaag om weg te kom,” vertel Steyn.

Die twee swaers het plat gaan lê, maar het steeds brandwonde opgedoen. Hulle het aanvanklik nie te sleg gevoel nie, maar hulle is albei later in die Pelonomi-hospitaal opgeneem.

Jannie sê hulle het brandwonde aan hulle agterbene opgedoen, van onder die sitvlak tot by die kuite. Raymond het brandwonde aan albei sy boarms opgedoen, en Armand se regterarm het ook gebrand.

Die drie manne saam met Jannie se kleinseun Arrie. Foto verskaf

Net ’n paar dae later, op Vrydag 15 September, het Jannie se Izuzu-dubbelkajuitbakkie ook heeltemal uitgebrand. Hy sê dié keer het die brand uit die Grootvlei-gevangenis se terrein versprei. Sy bakkie het vasgeval en hulle kon hom nie betyds uitgesleep kry en van die vlamme red nie.

“Hierdie dinge vat maar aan ’n ou. Ons is wel net dankbaar dat dit nie erger was nie,” sê Jannie.

Dit gaan ook goed met Armand en Raymond.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.