On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Wegholveldbrand laat pad van verwoesting deur Noord-Kaap

───   08:48 Sun, 24 Sep 2023

Wegholveldbrand laat pad van verwoesting deur Noord-Kaap | News Article
Wegholveldbrande in Daniëlskuil, Noord-Kaap. Foto: Facebook

"Dit is absolute chaos. Beeste het gevrek. Sommige is erg verbrand, en ander moes geskiet word. In sommige gevalle het boere al hul weiding verloor."

’n Wegholveldbrand wat sedert Woensdag in en om die klein dorpie Daniëlskuil in die Noord-Kaap woed, het ’n spoor van verwoesting gelaat, verskeie huise vernietig en beeste op nabygeleë plase doodgebrand.

Boere in die omgewing was magteloos met die brandskade wat oor ongeveer 40 kilometer versprei het. Onbepaalde skade is aangerig ondanks pogings van Working on Fire en gemeenskappe, wat aanvanklik gister weens die sterk wind nie die brande kon blus nie.

Eben Anthonissen van Agri Noord-Kaap het gesê alle hulp moontlik moes ingespan word omdat winderige toestande lugsteun totaal bemoeilik het.


Welkome reën het intussen in die gebied begin uitsak, wat groot verligting vir boere in die brandgeteisterde gebiede bring.                               



’n Boer in die omgewing, Bontie Viljoen, het aan News24  gesê die brand het duisende hektaar verwoes, en mense is dakloos gelaat nadat vlamme hul huise verswelg het.

"Dit is absolute chaos. Beeste het gevrek. Sommige is erg verbrand, en ander moes geskiet word. In sommige gevalle het boere al hul weiding verloor," het hy gesê. “Hierdie brand was van die begin af buite beheer.”


Nog 'n Noord-Kapenaar, Lani de Klerk, het gesê daar was aansienlike skade aan verskeie plase rondom die dorp.

“ 'n Bekende gastehuis het van sy kamers in die brand verloor, en 'n ander boer het sy hele huis verloor. Dit lyk baie sleg vir hulle,” het sy gesê. “Dit maak my ongelooflik hartseer om te sien hoe die dorp so brand. Buiten die plase en beeste dink ek aan al daardie diere in die veld. Dit is verskriklik dat die natuur so voor ons oë brand.”



Geen sterftes is tot dusver aangemeld nie. 

Werner Strauss van AfriForum in die Noord-Kaap het gesê die afgelope week se aanhoudende sterk wind het veroorsaak dat die brand vinnig buite beheer geraak het.

“Die wind is die grootste probleem op die oomblik, en dit is bosveldgebied. Die gras is droog ná die winter en dit is die perfekte resep vir ’n brand. Die rook is dig en jy kan skaars iets sien. Dis sleg, dis regtig sleg.”



'n Rampbestuurspesialis by AfriForum, Tarien Cooks, het gesê in hierdie situasie kan die vlamme teen ongeveer vier kilometer per uur beweeg en hoogtes van tussen vyf en 15 meter bereik.

Cooks het verduidelik dat die weerstoestande brandbestrydingspogings belemmer het. "Die wind is sterk, die hitte is uiters hoog, en die humiditeit is laag. Jy sal basies moet wag vir die weer om te verander voordat jy die brand effektief kan bestry," het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat die aanvanklike effense reënval Saterdagmiddag nie genoeg was om met die brand te help nie. “Die weervoorspellings toon soortgelyke weerstoestande vir die volgende paar dae,” het sy bygevoeg.


"At the time of his disappearance, he was wearing a check suit with a purple shirt and black shoes.”

Intussen het die  Noord-Kaapse Departement van Landbou en Omgewingsake ‘n beroep op die landbougemeenskap in die gebied, asook regoor die provinsie, gedoen om versigtig te wees wanneer hulle probeer om wegholveldbrande te blus.                                

Phemelo Manankong, landboudepartement-woordvoerder, sê die departement gelas tans ’n ondersoek na die oorsaak wat tot die verwoestende brand gelei het. ‘n Behoorlike skadebepaling sal daarna bekend gemaak word.

OFM Nuusspan en Roderick Titus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.