Central SA
Noordwes-polisiebeampte het glo informant se geld gesteel─── 11:54 Sun, 24 Sep 2023
“Alle oneerlike werknemers, wat aanhou om die beeld van die SAPD te skend, sal dienooreenkomstig hanteer word.”
’n Noordwes-polisiebeampte word daarvan aangekla dat hy R12 000 wat vir 'n informant bedoel was, gesteel het. Die polisiesersant het die geld namens die informant geëis, maar dit het dié nooit bereik nie.
Polisiewoordvoerder Sabata Mokgwabone sê Tshepang Magodielo (44) is Woensdag (20/9) in hegtenis geneem. Die eis is goedgekeur, en die sersant het die geld in Julie namens die informant ontvang.
Die 44-jarige sersant is intussen op borgtog van R1 500 vrygelaat nadat hy Donderdag (21/9) in die Rustenburgseclanddroshof verskyn het. Hy kom na verwagting weer Dinsdag 31 Oktober voor.
"Lt.genl. Sello Kwena, Noordwes- provinsiale polisiekommissaris, het die teenkorrupsie-ondersoekeenheid geloof vir die inhegtenisneming van sers. Magodielo. Die beskuldigde, wat verbonde is aan die Rustenburg se Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe, is Woensdag in hegtenis geneem. Die provinsiale kommissaris het herhaal dat alle oneerlike werknemers wat aanhou om die beeld van die SAPD te skend, dienooreenkomstig gehanteer sal word,” het Mokgwabone gesê.

Sers. Ncebo Mitane (38) en sers. Lerato Gift Shopo (34) is in Bloemfontein vasgetrek, ook vir bedrog, geldwassery, besit van vermoedelik gesteelde eiendom en regsverydeling. Foto: Valke/SAPD
OFM Nuus het vroeër berig twee Bloemfonteinse polisiebeamptes is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat. Sers. Ncebo Mitane (38) en sers. Lerato Gift Shopo (34) is vasgetrek weens beweerde bedrog, geldwassery, besit van vermoedelik gesteelde eiendom en regsverydeling. ’n Saak teen hulle is vir die Bloemfonteinse streekhof tot 30 Oktober uitgestel.
Zweli Mohobeledi, Valke-woordvoerder, sê die beamptes is Donderdag (21/9) in Bloemfontein in hegtenis geneem deur lede van die Valke in Welkom. Daar word beweer dat hulle tussen Desember 2021 en Januarie 2022 ’n casino in Bloemfontein besoek het waar hulle banknote gebruik het wat met ink bevlek was.
Sekuriteitsbestuur het hulle geïdentifiseer en die saak aangemeld. Meer as R4 000 se bevlekte kontant is gebruik. Albei polisiebeamptes is lede van 'n transito-taakspan. Hulle het die geld vermoedelik van 'n misdaadtoneel teruggekry en dit vir persoonlike gebruik gehou.
Hulle is albei lede van die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum in Bloemfontein.
OFM Nuus
