On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Leerlinge skitter in die kollig

───   ELSABÉ DE JAGER 11:52 Tue, 26 Sep 2023

Leerlinge skitter in die kollig | News Article
Johan is gereed vir die opname. Foto verskaf

Sy beskou dié kompetisie as ’n goeie platform vir enige voornemende skrywer.

Twee leerlinge van die Noord-Kaap en Vrystaat is deel van die agt finaliste wat gekies is om deel te neem aan ’n nuwe werklikheidsreeks, Gekies vir die Kollig, wat binnekort op VIA uitgesaai word.

Om te kon deelneem aan die ATKV-DigiToneelkompetisie was vir Danelle Jacobs van die Hoërskool Martin Oosthuizen op Kakamas en Johan du Plessis van Grey Kollege in Bloemfontein ’n hoogtepunt van hul skoolloopbaan. Albei leerders is slaggereed vir hul eerste televisiebuiging op 3 Oktober.

JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-Digitoneel, sê deelnemers kry in die kompetisie, deur nuutgeskrewe monoloë te verfilm, die geleentheid om hul spel vir die kamera te ontwikkel. Sedert 2021word dié uitdaging na ’n nuwe vlak geneem deurdat die agt finaliste verdere mentorskap ondergaan om hulle gereed te kry vir deelname aan die program.

Johan du Plessis en Danelle Jacobs saam met mentor Mari Molefe van Heerden en die aanbieder, Pietie Beyers. Foto verskaf

Johan sê hy neem sedert 2020 deel aan die kompetisie. Sy groot droom om vanjaar die top-8 te behaal, is ’n droom wat bewaarheid is. Sedert die eerste kompetisie is al Johan se monoloë deur Ilne Fourie geskryf. Hy het baie waardering vir haar, aangesien sy hom toelaat om sy eie idees ook met haar te deel. Vanjaar se monoloog noem hy “En toe sien ek haar”. Hy geniet die feit dat hy kan speel, verfilm én redigeer.

Nadat Johan as een van die top-16 aangekondig is, is Jacques Bessenger en Solomon Cupido as mentors vir hom aangewys. Harde werk het voorgelê en hy kon dit beswaarlik glo toe hy hoor dat hy inderdaad in die top-8 is.

Vir Danelle Jacobs, hoofmeisie van haar skool, het die vreugdevure net so hoog gebrand toe sy die goeie nuus verneem dat sy vanjaar wéér die top-8 span gehaal het. Sy het, soos verlede jaar, haar eie monoloog, “Skisofrenie”, geskryf. Sy beskou die kompetisie as ’n goeie platform vir enige voornemende skrywer.

Die deelnemers is dankbaar vir mentorskap. Foto verskaf

Danelle se toekomsplanne sluit skryfkunde en dramastudie in. Dit wat sy by haar mentors Pietie Beyers en Mari Molefe van Heerden geleer het, sal in die toekoms ook vir haar baie beteken. Sy is ook dankbaar vir die hegte band wat sy en haar spanmaat Johan du Plessis, kon vorm.

Nadat die mentors die finaliste by Gold Reef City in Johannesburg bygestaan het met die afronding van hul monoloë, het die deelnemers tuis ’n finale weergawe gaan voorberei. Dit is ingestuur vir die finale beoordeling deur Lea Vivier en Lindsey Cele. Die program is in die finale redigeringsfase om te verseker dat die eerste episode van Gekies vir die Kollig betyds gereed sal wees.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.