On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Niks kan ouers voorberei op kind se kankerskok nie

───   KAREN VAN DER BERG 12:28 Tue, 26 Sep 2023

Niks kan ouers voorberei op kind se kankerskok nie | News Article
Caylen Venter. Foto verskaf

“Ek en Eldie wil graag ons storie deel om bewusmaking te verhoog, om by ouers te pleit om wanneer hulle kind van pyn kla, dit ernstig op te neem.”

Eers kom die aanvanklike skok wat tref soos ’n vuishou in die maag: My kind het kanker. “Dan kom jy by ’n punt en jy het geen trane of geen hoekoms oor nie.”

So beskryf Tiaan Venter (35) die rou emosies van wanneer kanker skielik by ’n kind gediagnoseer word. “Daarna volg ’n totale omwenteling in die huishouding wat deurspoel na elke liewe aspek van die gesin. 

“Die emosies, die trauma, die vrees, die finansies wat skielik in gedrang raak, die ongelykheid van een kind wat nou noodgedwonge al die aandag opeis, die onsekerheid van wat die toekoms inhou, die spanning op jou beroep en selfs op die huwelik.”

‘Sy werklikheid is ’n strawwe rondte van ses chemoterapie-siklusse’

Hy en sy vrou, Eldie (34), se middelste seun, Caylen, is ’n paar weke gelede in die onstuimige waters gegooi met die diagnose van fase 4-kanker. ’n 12-jarige seun wat veronderstel is om sy laaste paar weke in die Laerskool Jim Fouché in Bloemfontein te geniet, wat droom van rugby speel en op avonture gaan. Wat met sy twee broers, Ethan (15) en Logan (3), buite moet speel.

Maar sy werklikheid is ’n strawwe rondte van ses chemoterapie-siklusse, wat elk in vyf weke opgedeel is. Behandeling wat hom platslaan, siek maak, naar maak, sere in sy mond laat kry en van kindwees beroof.

Caylen Venter het ’n aggressiewe soort beenkanker. Foto verskaf

Tiaan sê niks kon hulle voorberei op die moeilike pad waarop hulle nou is nie. Caylen is op 2 Augustus na sy dokter in Langenhovenpark geneem nadat hy ’n week tevore van pyn in sy linkerknie gekla het. Hy is nog dieselfde aand na die Life-Rosepark-hospitaal gestuur vir X-strale. Die radioloog het vir hulle gesê dit lyk soos ’n kankergewas.

Ná verskeie toetse deur ’n ortopedis en biopsie is die fase 4-osteosarkoom op 7 Augustus by hom gediagnoseer. Dit is ’n aggressiewe soort beenkanker.

“Ek en Eldie wil graag ons storie deel. Om bewusmaking te verhoog. Om by ouers te pleit dat wanneer hulle kind van pyn kla, om dit ernstig op te neem.”

‘Hulle hou moed en klou aan die hoop vas’

Hy sê hulle word ondersteun deur familie, vriende, die skoolgemeenskap en mense landwyd. “Dit het ons laat besef daar is pêrels op ons pad. Hulle is in die vorm van die mensdom. Ons kry weer hoop dat mense kan saamstaan.”

Tiaan sê hoewel hulle nog nie weet wat die pad vorentoe inhou nie, hou hulle moed en klou hulle aan die hoop vas. Caylen is besig met die tweede rondte chemoterapie. Wanneer dit voltooi is, sal daar weer skanderings gedoen word om te kyk hoe die gewas op die behandeling reageer.

Caylen Venter (regs) saam met sy pa, Tiaan en broer Ethan. Foto verskaf

“En in dié stadium sal enige gebed ons help.”

• September is kinderkanker-bewusmakingmaand en OFM ondersoek in ’n reeks artikels ondersoek  wat kinderkanker behels. Lees ook ons onderhoud met dr. Liezl du Plessis, ’n pediatriese onkoloog, Kansa se veldtog en ’n storie oor hoe Jad-Lynn Cloete (16) haar kanker oorwin het.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.