On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan OFM
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Central SA

’n Toring waak oor Philippolis

───   ELSABÉ DE JAGER 10:32 Wed, 27 Sep 2023

 ’n Toring waak oor Philippolis | News Article
Die oorspronklike olienhoutpreekstoel is vandag nog in gebruik. Foto verskaf

“Sy het nie net vir die kerkmense nie, maar vir ons almal sommer so op die sypaadjie gesit en bid voordat die kanker haar kom haal het.”

Die dorp treur steeds oor die heengaan van hul geliefde predikant verlede jaar. Aan die bopunt van Voortrekkerstraat op Philippolis troon, soos so eie aan die meeste plattelandse dorpe, ’n kerktoring uit.

Die NG kerkgebou is rondom 1871 ontwerp deur Richard Wocke, ’n Duitse meesterbouer en argitek wat verantwoordelik was vir talle kerkgeboue van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Vrystaat.  


Die gemeente Philippolis se geskiedenis strek terug tot 1862, toe die stigting daarvan goedgekeur is deur die Ring van Transgariep op ’n vergadering in Kaapstad. Op 9 Maart 1863 vind die eerste kerkraadsvergadering van die NG Gemeente Philippolis plaas. Tydens dié byeenkoms word ds. Colin Fraser as die eerste leraar beroep. Hy was werksaam in die gemeente vir 44 jaar. Ná hom het nog 17 predikante gevolg.

Ds. Colin Fraser, eerste predikant van die gemeente (1863-1907). Foto: Wikipedia

Aanvanklik is die eredienste in die ou bestaande Griekwakerkie gehou wat spoedig te klein geraak het. Op dieselfde plek word die nuwe kerk wat vir ongeveer £6 000 gebou is, op 24 Februarie 1871 ingewy. Die gekleurde glasvensters vanaf Skotland is in 1877 deur Fraser aan die gemeente geskenk.

Die kuier in die kerkkantoor by Pulani Simes, skriba van die gemeente, is vanuit die staanspoor gesellig en leersaam. Johan Botes, voorsitter van die kerkraad, word gebel en hy kom gesels saam.  Die gemeente trek finansieel swaar. Sedert die afsterwe van hul laaste leraar, dr. Carin van Schalkwyk, kon ’n herder vir die kudde nie weer permanent aangestel word nie.

Botes sê afgesien van moeilike tye wat hulle beleef is die besluit wat deur die huidige kerkraad geneem is dat Philippolis se kerkdeure sal oopbly, ononderhandelbaar. Daar is steeds elke Sondag ’n predikant op die kansel. Afgetrede predikante van die omgewing asook leraars van Bloemfontein bied hul dienste gereeld aan. Die kerkraad het saam met die gemeente ook onlangs besluit om opnuut die moontlikheid van ’n nuwe predikant te ondersoek.

Die kerkraad het ’n besluit geneem dat die kerkdeure altyd oop sal wees. Foto verskaf

Die dorp treur steeds oor die heengaan van hul geliefde predikant verlede jaar. ’n Kromgetrekte lyf loer oor die kerkmuur terwyl ek na ds. Carin se gedenkplaat in die tuin staan en kyk. “Sy het nie net vir die kerkmense nie, maar vir ons almal sommer so op die sypaadjie gesit en bid voordat die kanker haar kom haal het”, sug hy.

Ek stap verby die roosbome, in by die kerk. Ek het gevra of ek maar vir ’n oomblik alleen daar mag vertoef. Die stilte voer sy eie gesprek met my. Die oorspronklike olienhoutpreekstoel is vandag nog in gebruik. Die hout is destyds deur twee ouderlinge self in die berge naby Fauresmith uitgesoek.

"Dr. Carin van Schalkwyk het die Here liewer as die lewe gehad", sê ’n vriendin. Foto: NG Kerk Vrystaat

Buite in die helder laatwinterson kyk ek op na die klok, 160 jaar gelede deur ’n ene Mynhardt geïnstalleer. En ek wens ek was op Sondag 8 Oktober vanjaar ook daar om te beleef hoe ’n Vrystaatse gemeenskap, sterk in hul saamstaan deur dik en dun, geskiedenis en geloof, met die gebeier van die kerkklok by ’n kerkbank inskuif om dankie te sê vir hul dorp se 200-jarige bestaan. Die diens op daardie dag word gelei deur ds. Bertie Haasbroek, predikant op Philippolis van 1995 tot 2003.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.