Central SA
Mustang-lede neem seun na matriekdans ná pa se dood─── 13:50 Thu, 28 Sep 2023

“Die Mustanglede is soos ’n familie.”
Carl Koen, wat die afgelope naweek tydens ’n motorsaamtrek in Clarens dood is, se seun Ruari gaan vandag (28/9) met Koen se Ford Mustang na sy matriekafskeid danksy lede van die Mustang Musketeers-klub wat aangebied het om namens sy pa as chauffeur in te staan.
Carl Koen en Sharon de Villiers van Pretoria. Die foto is onderweg na die Suzuki-saamtrek geneem. Foto verskaf
Dit volg nadat Ruari (18) se suster, Jennifer Rose, ’n pleidooi aan die Mustang-klub op hul Facebook-blad gelewer het. “Soos meeste van julle dalk weet, is my pa, Carl, en sy verloofde, Sharon, die afgelope naweek oorlede.
“Dit is Donderdag my broer se matriekdans en my pa was veronderstel om hom met sy Mustang soontoe te ry. Ons sal baie graag wil hê dat iemand my broer met sy pa se kar soontoe ry.”
‘Die Mustanglede is soos ’n familie’
Sy het ook gevra vir twee of drie ander Mustangs om by die ingang vir haar broer te wag as huldeblyk aan hul pa, wat president van die Mustang Musketeers-klub was.
Carl Koen in sy wynrooi Ford Mustang. Foto: Facebook
Netwerk24 berig Fabian Fieliciano, een van die klub se stigterslede, sê dat een van hulle Ruari in sy pa se Mustang na die geselligheid sal neem, terwyl ander lede in ’n konvooi sal saamry. “Die Mustang-lede is soos ’n familie.”
Koen (52) en sy verloofde, Sharon de Villiers (50), is Maandagoggend dood in hul tent op Langkranz buite Clarens aangetref. Volgens Netwerk24 is dit waarskynlik dat hulle Saterdag reeds dood is nadat hulle glo deur koolstofgasse in hul tent oorval is.
787 Suzuki Jimny-voertuie het by die saamtrek in Clarens opgedaag. Foto: Suzuki Auto Suid-Afrika
“Dis hartverskeurend, veral omdat ek Sondagnag waarskynlik nie verder nie as 50 meter van hulle ook in ’n tent geslaap het,” skryf ene Hoesê as kommentaar op die Netwerk24-berig.
“Die 82 tente was teenaan mekaar opgeslaan. Die gebied was nie baie groot nie. Om te dink ons het die oggend neffens hulle in die kuiertent gesit en koffie (drink) en beskuit eet sonder om van die treurspel te weet. Dis baie sleg.”
The Citizen berig Koen se eksvrou, Lynne, het bevestig dit was nie ’n gaslek wat tot die tragedie gelei het nie, “maar dat die brandervlam van ’n klein gasstofie heel waarskynlik nie gedoof het nie”.
Honderde Suzuki Jimny-voertuie het by Clarens opgedaag. Foto: Suzuki Auto Suid-Afrika
Saamtrek gehou om wêreldrekord te verbeter
Koen en De Villiers was by die saamtrek om deel te neem aan Suzuki SA se poging om die wêreldrekord van die getal voertuie wat hul hoofligte terselfdertyd aanskakel, te verbeter. Danksy die 787 Suzuki Jimny-voertuie wat hiervoor opgedaag het, is dié rekord wel verbeter.
Die organiseerders het hul meegevoel betuig met Koen en De Villiers se naasbestaandes en vriende. “Ons is diep bedroef oor die nuus van die tragiese heengaan van twee gaste wat die naweek die Jimny-geleentheid bygewoon het,” sê Brendon Carpenter, bemarkingsbestuurder van Suzuki Suid-Afrika.