Central SA
Samewerking is ’n wenresep vir die lewe op Philippolis─── ELSABÉ DE JAGER 08:50 Fri, 29 Sep 2023
Sponsored08:50 Fri, 29 Sep 2023
Geskiedenis beïnvloed deurentyd ’n plek se samestelling en funksionering.
“As ek die politieke klimaat van Philippolis moet opsom, sal ek dit met oortuiging kan beskryf as een van matigheid en samehorigheid tussen sy inwoners.”
So gesels Louis van Wyk, boorling en boer van Philippolis, waar ons op die stoep van Emily’s in Voortrekkerstraat sit en koffie drink. Alhoewel Philippolis ook, soos alle ander dorpe, sy algemene munispale uitdagings het, is politieke geweld, opstande, gewelddadige betogings en onplesierige verhoudinge tussen gemeenskappe geheel en al ongehoord en ongekend op dié dorp, sê hy.
Besoekers, sowel as toeriste, is dit eens dat vrede en welwillendheid oral in die gemeenskap opvallend is. Van Wyk maak dit egter ook duidelik, om die politieke klimaat van enige plek te verstaan, moet daar na die geskiedenis van die dorp gekyk word. Geskiedenis beïnvloed deurentyd ’n plek se samestelling en funksionering.

Welwillendheid is aan die orde van die dag op hierdie dorp. Foto: Facebook
Philippolis was nog altyd deur sy bestaansjare bekend as ’n dorp vol diverse kultuurgroepe en gemeenskappe. Die Afrikaners, Engelse, Griekwas, Jode, Xhosas en Sotho’s maak almal deel uit van dié gemeenskap. Wanneer daar in diepte gekyk word na elkeen van hierdie kultuurgroepe, sal ’n mens vind dat elkeen sy unieke en historiese figure opgelewer het, wat inderdaad prominente rolle gespeel het. Van Wyk verwys hier in ons gesprek na leiersfigure soos onder andere Adam Kok, Laurens van der Post en John Philip, na wie die dorp vernoem is.
Van Wyk glo dat die daadwerklike poging om die ryk geskiedenis en erfenis van Philippolis vandag steeds op verskeie maniere lewendig te hou bydra tot die gemeenskaplike gevoel van naasbestaan wat daar heers.
Die vreedsame klimaat geld nie net vir die verskillende kultuurgemeenskappe nie, dit spoel ook oor na die dorpsinstansies en breër landbougemeenskap. Van Wyk sê die landbougemeenskap in Philippolis het aansienlik minder probleme met kwessies soos veediefstal teenoor die res van Suid-Afrika. Dit kan toegeskryf word aan die noue band van samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens. ’n Hegte verhouding bestaan ook tussen die kommersiële en opkomende boere.

Vir Louis is die politieke klimaat een van samehorigheid. Foto verskaf
Van Wyk sê groot dankbaarheid heers ook op hierdie rustige plattelandse dorp vir verskeie plaaslike veiligheidskomitees wat positiewe kommunikasie op gereelde basis verseker. Vir hom is Philippolis een van die beste voorbeelde van hoe ’n gemeenskap positief, konstruktief en opbouend met homself en sy inwoners te werk moet gaan.
OFM Nuus/Elsabé de Jager
