Central SA
Rondloperbuffel kom sy moses teë in Vrystaat─── ZENANDE MPAME 12:09 Fri, 29 Sep 2023
“Dit gebeur gewoonlik net nadat ’n vloed of ’n brandramp heinings vernietig het.”
Die rondloperbuffel wat ’n boervrou in die Theunissen-distrik aangeval het, het verlede Donderdag (21/9) uiteindelik sy moses teëgekom en is geskiet.
Hierdie gevaarlike buffel loop nou al ’n volle jaar sedert die voorval vry rond. Niemand het geweet waar die buffel vandaan gekom het nie aangesien dit nie gebrandmerk was nie.
“Wild is baie werd vir wildboere en hulle sal alles in hul vermoë doen om dié diere terug te kry [indien hulle uitgebreek het]. Gewoonlik, sodra ’n boer bewus raak van ’n heining wat gebreek het, gaan ’n gemeenskapswaarskuwing onmiddellik na die polisie uit,” sê dr. Jack Armour, Vrystaat Landbou se kommersiële bestuurder.

Dr. Jack Armour, Vrystaat Landbou se kommersiële bestuurder. Foto verskaf
Hierdie rondloperbuffel het nie net ’n boer se vrou op hulle plaas aangeval nie, maar ook verlede maand ’n plaaswerker op sy perd aangeval, gelukkig is hulle nie beseer nie.
Jolandi Louw (45) het 'n paar vermiste beeste op hul plaas naby Winburg langs die dig beboste oewer gaan soek. Sy het 'n geritsel in die bosse gehoor, met die veronderstelling dat dit een van die beeste was. Sy het haar hande geklap om hulle kraal toe te jaag, waarna 'n yslike buffel voor haar verskyn en haar aangeval het. Sy het die aanval genadiglik oorleef.
Netwerk24 het onlangs berig dr. Jannie Morrison, wat op die plaas Uitkyk buite Winburg boer en jag, het na die buffel gesoek..
‘My asem was weggeslaan’ – boervrou ná buffel-aanval
— Maroela Media (@maroelamedia) August 16, 2022
Lees hier: https://t.co/E81MYvDocx
Morrison sê die soektog na die buffel het aanvanklik ’n gewoonte geword en later in ’n obsessie verander. Hy en ’n paar boere van die omgewing het die buffel opgemerk en dit met veevoer gelok, gevang en geskiet.
Buffels is bekend daarvoor dat hulle aggressief is wanneer hulle gekonfronteer word. As jy hulle teëkom, is die beste oplossing om uit hul pad te bly, in 'n boom te probeer klim en die naaste veearts te kontak.
“Dit is hul verantwoordelikheid om spesifiek aandag te gee aan verdwaalde buffels as gevolg van die moontlike verspreiding van siektes,” sê Johan Serfontein, Wild Life Ranching SA se verteenwoordiger.
