Central SA
‘Universiteite behep met ras’ – jeugverslag─── 14:48 Fri, 29 Sep 2023
“Studente moet volgens meriete gekeur word en nie volgens ras nie.”
’n Verslag, saamgestel uit inligting wat AfriForum Jeug aan al 26 openbare universiteite in Suid-Afrika ingesamel het, dui op “kommerwekkende rasbeheptheid”.
René van der Vyver, woordvoerder, sê die doel van dié verslag is om diskriminasie teen minderheidsgroepe in Suid-Afrika te dokumenteer en staatsuniversiteite aan nierassige beleidstellings voor te stel. “Die praktyk van rasseklassifikasie is ’n afstootlike skending van die reg op gelykheid soos deur die Grondwet beoog word. Rasseklassifikasie lei onomwonde tot rassediskriminasie. Studente moet volgens meriete gekeur en behandel word, en nie volgens ras nie.”

Rasseklassifikasie by universiteite lei tot rassediskriminasie, sê AfriForum Jeug. Foto: AFP/Gianluigi Guerci
Die organisasie het inligting van al 26 staatsuniversiteite aangevra om vyf elemente van nierassigheid by dié instellings te ondersoek, naamlik:
• die vereiste van rasseklassifikasie in universiteitsaansoeke;
• die gevolge indien aansoekers weier om hul ras te openbaar;
• die onderskeie beleidstellings of prosedures wat gebruik word om ras mee te bepaal;
• die aantal beleidsdokumente wat na ras verwys;
• en universiteite se standpunte oor die grondwetlike waardes van nierassigheid en gelykheid.
Elke universiteit klassifiseer aansoekers volgens ras
“Elke universiteit vereis rasseklassifikasie in sy aansoekproses,” sê Van der Vyver. “Aansoeke waarin aansoekers kies om nie hul ras bekend te maak nie, word as onvolledig, en dus as ongeldig, geag. By die Universiteit van Kaapstad kan aansoekers selfs op grond van hul ouers se rasseklassifikasie tydens apartheid kies om onder die sogenaamde regstelkategorie geklassifiseer te word.”
Rasseklassifikasie aan die meeste openbare universiteite stem ooreen met die regering se klassifikasie, naamlik Afrikaan (swart), wit, bruin en Indiër, maar aan die Nelson Mandela-universiteit word tussen 17 rasse en kultuurgroepe onderskei: Afrikaan, Asiaties, Chinees, bruin, Indiër, Japannees, Ndebele, Noord-Sotho, ander, Suid-Sotho, Swazi, Tsonga, Tswana, Venda, wit, Xhosa, en Zoeloe.
Aansoekers by die Universiteit van Zoeloeland mag egter kies om hul ras as “ander” te lys.

Universiteite se aansoekvorms vereis dat aansoekers hul ras meld. Anders word dit as onvolledig en ongeldig beskou. Foto: Skermgreep
Die ondersoek toon ook dat universiteite beleidstellings het wat na ras en die hantering van rasseaangeleenthede verwys. By die Universiteit Stellenbosch geld 17 verskillende rassebeleidstellings, terwyl 15 by die Noordwes-Universiteit en tien by die Universiteit van Pretoria toegepas word.
“Dit is skokkend dat instellings wat sê dat hulle nierassig is, tot … 17 beleidstellings het wat na ras verwys en die hantering van studente op grond van hul velkleur op verskeie vlakke beheer,” sê Van der Vyver.
Die verslag is getiteld “The status of non-racialism at South African universities”.
