Central SA
Noord-Kaapse amptenaar vir bedrog gevonnis─── LUCKY NKUYANE 14:24 Mon, 02 Oct 2023
“Die munisipaliteit het 'n verlies gely weens haar optrede. Sy het die eNatis-stelsel van Julie 2019 tot Desember 2020 gemanipuleer.”
’n Noord-Kaapse munisipale amptenaar het direkte tronkstraf vrygespring. Nomava Luwalala (44) , wat as ’n kassier by die Emthanjeni Plaaslike Munisipaliteit in De Aar gewerk het, is van bedrog van meer as R120 000 aangekla.
OFM Nuus het vroeër berig sy is in Desember 2022 deur die Valke in hegtenis geneem vir die manipulering van die verkeerstelsel en versuim om al die geld aan te teken wat ontvang is. Luwalala is gevonnis tot agt jaar tronkstraf wat opgeskort is vir vyf jaar op voorwaarde dat sy nie in die tydperk skuldig bevind word vir bedrog, diefstal of poging tot diefstal nie.
Tebogo Thebe, provinsiale Valke-woordvoerder, sê die beskuldigde moet ook die R120 252 in paaiemente van R10 000 terugbetaal. Sy is destyds in hegtenis geneem toe sy vir diens by Hanover se plaaslike munisipale kantoor aangemeld het.

Die Nomava Luwalala moet die geld terugbetaal. Foto verskaf
“Die munisipaliteit het 'n verlies gely weens haar optrede. Sy het die eNatis-stelsel van Julie 2019 tot Desember 2020 gemanipuleer.”
Stephen Mabuela, hoof van die Valke in die Noord-Kaap, sê hy is verheug dat die munisipaliteit die geld sal terugkry.
