Central SA
Feestafel op Philippolis gedek─── ELSABÉ DE JAGER 10:36 Tue, 03 Oct 2023

Al het die lewe op Philippolis oor twee eeue ’n pad van vele veranderings geloop, bly dit steeds ’n weggesteekte juweel.
Alle paaie wat na Philippolis lei se slaggate is deur weldoeners gevul, die kruithuis is geverf, kunstenaars is op pad en die gastehuise se besprekingsboeke loop oor.
Dié dorpie, wat diep in die Suid-Vrystaat lê, se feesjas word van 5 tot 8 Oktober aangetrek wanneer hy saam met inwoners en besoekers van oraloor sy 200 bestaansjare vier. Al het die lewe op Philippolis oor twee eeue ’n pad van vele veranderings geloop, bly dit steeds ’n weggesteekte juweel, sê Marilyn du Preez, organiseerder van die verjaarsdagfees.
Die Karoo Artist's Café is geleë in die historiese gebou wat die heel eerste klaskamer op Philippolis gehuisves het. Foto: Facebook
Annelie Blom, eienaar van Pitstoprestaurant op die dorp, sê sedert haar kinderjare het die lewe op Philippolis baie verander. Van ’n tyd waarin al die inwoners en boere van mekaar afhanklik was vir besigheid en voortbestaan, het die dorp midde plattelandse verval en swaarkry gegroei tot ’n toeristeaantreklikheid, waarvoor hulle baie dankbaar is. Ná jare van wegwees, is Blom dankbaar om terug te wees op haar tuisdorp met die “dusty roads”. Sy sien met trots uit daarna om haar besigheid en dorp met besoekers te deel tydens die feesnaweek.
Hoogtepunte van die feestelikeheid sluit in ’n besoek aan die Emily Hobhouse-gedenktuin, wynproegeleenthede, kunsuitstallings deur kontreikunstenaars asook ’n musiekkonsert met gaskunstenaar Gerhard Supra. Du Preez sê ’n feesoptog bestaande uit hooggeplaastes van verskillende volksgroepe, trompoppies en die polisieorkes sal Saterdagoggend deur die hoofstraat beweeg. Saterdagmiddag bied Nicolene Gibbons, internasionale pianis en deesdae inwoner van Philippolis, ’n uitvoering aan om die lente te vier.
Gesellige kuiers vind op die stoep van Emily's Tea Room plaas. Foto verskaf
Carin Pienaar, gastehuisbestuurder en eienaar van Emily’s Tea Room, sê die dorp se deure staan wyd oop vir al die feesbesoekers. Eetplekke se tafels is al gedek, die rakke is gepak, en die tuisnywerheid sal sorg vir genoeg lekkernye om aan te peusel deur die dag.
Die feesnaweek sluit op Sondagoggend af met ’n interkerklike erediens wat gelei sal word deur ds. Bertie Haasbroek, voormalige leraar van Philippolis.
OFM Nuus/Elsabé de Jager