Click on the warning image to view this post
Central SA
Veldbrande in Vrystaat saai verwoesting─── HEIDRÈ MALGAS 15:30 Tue, 03 Oct 2023
“Ek is bewus dat burgerlike samelewingsorganisasies reeds beplan om boere ná die ramp te ondersteun.”
Die wydverspreide veldbrande die afgelope week in die Vrystaat het gelei tot die verwoesting van duisende hektaar landbougrond, gebrande vee en beskadigde infrastruktuur. Die VF Plus het 'n brief gestuur aan Mxolisi Dukwana, premier van die Vrystaat, om kragtens art. 41 (1) van die Nasionale Rampbestuurswet (2002) die Vrystaat as ’n rampgebied te verklaar.
Armand Cloete, VF Plus-LPW, sê die brande sal ’n invloed op voedselsekerheid in die provinsie hê en moontlik ook landwyd. 
Boere het baie vee in die veldbrande in die Vrystaat verloor. Foto verskaf
Cloete meen dit is nou noodsaaklik dat boere ondersteun word ná die verwoestende brande. “Ek is bewus dat burgerlike samelewingsorganisasies reeds beplan om boere ná die ramp te ondersteun. Wat nou nodig is, is dat die Vrystaatse regering dieselfde doen.”
Die NG Sinode van Goudland en spesifiek die Ring van Bloemhof samel geld in vir die boere in dié deel van Noordwes wat skade weens die veldbrande gely het. Minstens 150 000 hektaar is verwoes en van die boere het alles verloor.
Dr. Poena van der Merwe sê sy gemeente en omliggende gemeentes voel dit is hul plig om basiese lekke vir die boere se vee in te samel.
“Die doel van die kerk is om betrokke te raak waar dit saak maak, en om ons mense bewus te maak dat ons ook die liefde van Jesus deel waar die nood baie groot is,” sê hy.
