Central SA
Moordenaars van Potchefstroomse sakeman steeds op vrye voet─── HEIDRÈ MALGAS 15:39 Tue, 03 Oct 2023
“’n Buurman het aan die polisie gesê hy het skote gehoor en twee gewapende mans sien vlug.”
Niemand is nog aangekeer vir die moord op Johannes Maponyane (74), ’n sakeman van Potchefstroom, nie. Hy is verlede Dinsdag dood in sy erf gevind.
Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, sê Maponyane het op die gras gelê en is op die toneel dood verklaar. "Die slagoffer se wit Mercedes-Benz was voor die hek geparkeer, die hek was gedeeltelik oop en die voertuig het nog geluier,” sê hy.
Hy het verskeie skietwonde opgedoen, maar niks is gesteel nie. Volgens inligting is hy deur onbekende aanvallers geskiet toe hy by die huis gekom het. ’n Buurman het aan die polisie gesê hy het skote gehoor en twee gewapende mans sien vlug. Hy kon nie hul gesigte sien nie, sê Tselanyane.
Die ondersoek duur voort.
