On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

George Ballot van “Vyfster” sterf

───   15:31 Wed, 04 Oct 2023

George Ballot van “Vyfster” sterf | News Article
George Ballot as Skollie in Vyfster. Foto: Facebook

“Hy het grootliks uit die openbare oog verdwyn en ’n stil, private lewe gevoer.”

Die akteur George Ballot, wat bekendheid verwerf het vir sy vertolking van “Suid-Afrika se mees geliefde tronkvoël” Skollie in die TV-reeks Vyfster is Maandag dood in sy huis in Riebeek-Kasteel in die Wes-Kaap gevind.

Ballot (77) is deur sy buurvrou, die kunstenaar Louisa Gerryts, gevind, berig Maroela Media. Sy het onraad vermoed toe hy nie op haar boodskappe gereageer het nie, en het die polisie gevra om ondersoek by sy huis in te stel.

George Ballot as Skollie in “Vyfster”. Foto: Facebook

Hy is vermoedelik Saterdag al oorlede

Hy is dood op sy bed aangetref, glo met sy selfoon in sy hand. Hy is vermoedelik Saterdag al oorlede. Volgens Gerryts het hy die laaste jare las van swak bloedsomloop gehad en het hy sleepvoet geloop. Hulle was vir 22 jaar bure, maar sy was nog nooit in sy huis gewees nie.

“George was mos maar ’n bietjie hardkoppig. Maar ons het mekaar verstaan.”

Hy was voorheen getroud met Nerine, wat nou in Kaapstad woon. Nadat hy hom in die vroeë 2000’s in die Riebeekvallei gevestig het, het hy grootliks uit die openbare oog verdwyn en ’n stil, private lewe gevoer.

George Ballot en sy hondjie in Riebeek-Kasteel se strate. Foto: Louisa Gerryts/Facebook

Netwerk24 berig hy is vermoedelik aan ’n hartaanval of ’n aneurisme dood.

Ballot was veral bekend vir sy rol in die tronkdrama Vyfster wat die lewe van gevangenes en bewaarders by die Pretoria Sentraal-gevangenis uitgebeeld het. Hy het 'n huishoudelike naam geword vir sy rol as Skollie Williams.

Die temalied vir Vyfster, gekomponeer deur Trevor Nasser, is ook een van die mees ikoniese liedjies in Suid-Afrika se televisiegeskiedenis.

Volgens IMDb.com het hy in 1970 in sy eerste verhoogdrama, as Danie in Forgotten Summer, verskyn, en hy was ook te sien in  TV-reekse en verhoogdramas, soos Arsenaal, Koöperasiestories, Lied van die Lappop, Meeulanders en Orkney Snork Nie.

OFM Nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.