Central SA
Noordwes-dam besoedel ná R290 miljoen se mislukte opgraderings─── TSHEHLA KOTELI 10:15 Fri, 06 Oct 2023
“Die munisipale bestuurder se voorgangers het sowat R290 miljoen se beleggings gebruik om die aanleg op te gradeer om aan die groter vraag te voldoen, maar onverwerkte rioolvuil besoedel steeds die Klein Maricopoortdam.”
Die DA in Noordwes het uiteengesit hoe verskillende munisipale bestuurders van die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit sedert 2008 sowat R290 miljoen bestee het om die Zeerust-afvalwatersuiweringsaanleg op te gradeer. Nou kan die aanleg nie behoorlik funkioneer nie.
Die party het aan Alan Losaba, munisipale bestuurder, geskryf oor hoe moeilik dit is om die aanleg tot sy volle kapasiteit te laat werk. Hy is ook gevra om ’n gedetailleerde verslag aan die raad voor te lê oor al die opgraderings by die aanleg.

Cornél Dreyer van die DA sê die eerste opgradering van die aanleg is in 2008 deur die Ramotshere Moiloa-munisipaliteit gedoen en dit het sowat R3 miljoen gekos. Dit was egter onvoldoende en die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit het tot die redding gekom.
Die munisipaliteit het R23 miljoen bestee om die aanleg op te knap. “Selfs ná die tweede opgradering kon die aanleg reeds nie die verhoogde invloei van onverwerkte rioolvuil hanteer nie.”
Nog 'n poging is in 2015 deur die Ngaka Modiri Molema-munisipaliteit aangwend. R65 miljoen is bestee aan die opgradering van die aanleg, wat as 'n "belegging" bestempel is.
“’n Vierde poging is aangewend om die aanleg deur Ngaka Modiri in 2020 op te gradeer ter waarde van R188 miljoen. Die doel was om die aanleg se kapasiteit te verdubbel, maar dit bly onvolledig en onverwerkte rioolvuil loop steeds oor en besoedel die omgewing.”
Na verneem word, is die siviele werke voltooi, maar die meganiese en elektriese werke kan nie voltooi word nie omdat die hoofkontrakteur nie op die terrein is nie.
Dreyer sê hulle het verskeie kere probeer om die munisipaliteit te kontak. Hulle het ook in ’n brief aan Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, gevra dat hy dringend ingryp.
“Die DA sal Losaba se optrede oor hierdie aangeleentheid fyn dophou om te verseker dat hy nie die foute van sy voorgangers herhaal nie.”
