Central SA
Gedenkdiens vir Charl Hertzog ook in Bloemfontein gehou─── KAREN VAN DER BERG 12:29 Fri, 06 Oct 2023
Nog ’n gedenkdiens om die lewe van die oud-Bloemfonteiner Charl Hertzog (23) te vier sal in Desember in dié stad gehou word.
’n Gedenkdiens om die lewe van die “liefdevolle en vriendelike” oud-Bloemfonteiner, Charl Hertzog (23) te vier, sal in Desember in Bloemfontein gehou word.
Charl is Maandagaand (Amerikaanse tyd) in die deelstaat Kentucky dood nadat ’n skoot na bewering afgegaan het terwyl sy huismaat en vriend, James Small (20), besig was om sy geweer skoon te maak.
Charl het in 2017 saam met sy ouers, Albert en Linn, en suster Cayla (nou 19) van Bloemfontein na Kentucky verhuis, vertel sy ouma Joey Hertzog van die deelstaat Florida. Hy het die eerste twee jaar aan Grey College Sekondêr skoolgegaan toe die gesin geëmigreer het.
Die familie sê die ongeluk het gebeur toe Charl en twee vriende van hom saam in die huis gesit en gesels het. James was besig om sy jaggeweer skoon te maak toe die geweer afgegaan het en Charl in die kop getref het. Hy is op die toneel dood verklaar.
“Charl was ’n liefllike en vriendelike mens wat so maklik gelag het. Hy was besonder lief vir sy mense, sy gesin en familie en vriende en het altyd uit sy pad gegaan om ander te beskerm,” sê sy ouma.
“Charl het Suid-Afrika in Desember 2021 en Januarie 2022 besoek. Hy het altyd uit sy pad uit gegaan om sy familie te besoek en tyd saam met hulle deur te bring.”
Sy sê ’n ander groot hoogtepunt was dat hy en Cayla, ’n paar jaar gelede die helfte van Amerika met ’n motor deurkruis het. Dit was vir hulle ’n groot belewenis.

Charl Hertzog was ’n kranige perderuiter en baie lief vir diere. Foto verskaf
“Ons groot troos is nou dat die mens wik, maar God beskik. En ons weet Charl het ’n onwrikbare geloof in God gehad.”
Charl het met sy dood op skepe in Louisville gewerk. Hy was besig om as skeepskaptein vir goedereskepe te kwalifiseer. Joey sê hy het ook keuring gekry om by die Amerikaanse Marinekorps aan te sluit, maar terwyl hy met basiese opleiding besig was het hy sy skouer baie erg beseer en is hy medies ongeskik verklaar om sy opleiding te voltooi.
Sy sê die Hertzog-familie is bekend in die saalperdgemeenskap in Suid-Afrika en Charl was self vroeër ’n kranige ruiter.
Die eerste gedenkdiens vir Charl word op 21 Oktober op die plaas in Woodstock, Illinois, gehou.
Die tweede diens gaan op 5 Desember in die Hervormde Kerk in Langenhovenpark in Bloemfontein gehou word. Sy as sal ook hier gestrooi word.
“Ons is baie dankbaar vir al die ondersteuning wat ons van oor die wêreld heen ontvang. Maar veral ook baie dankbaar dat die Here die kosbare geskenk vir 23 jaar aan ons geleen het.”
• ’n Amerikaase televisiestasie, WLKY, berig Small het reeds in die hof verskyn op aanklagte van strafbare manslag en dat hy met bewyse gepeuter het. Hy het aansoek om borgtog gedoen. Sy prokureur sê dit was ’n fratsongeluk en Small het ná die ongeluk histeries geraak en weggehardloop. Hy het homself later gaan oorgee. Die ondersoek duur voort.
