Central SA
Potchefstroomse gesin dankbaar vir hulp nadat brand hul huis verwoes─── KAREN VAN DER BERG 12:37 Fri, 06 Oct 2023
“Ons wil uit ons hart uit vir mense dankie sê vir hul bystand en hulp. Vandat die brand plaasgevind het, het almal ons net oorval met hulp.”
Die toekoms lyk wel nog effens deurmekaar, maar daar is altyd hoop, sê Martie van der Merwe, van Potchefstroom. Sy en haar man, Willem, en hulle kinders, Jaco (20) en Klara (13), het op 21 September al hul besittings verloor toe ’n brand hul huis verwoes het.
Martie sê hulle was op die rampspoedige dag by die werk en Klara by die Laerskool Bailliepark, toe hul buurman oom Willem haar bel om te sê die huis is aan die brand.

Die Van der Merwe-gesin se huis in Potchefstroom is byna heeltemal verwoes in die brand. Foto verskaf
“Toe ons by die huis kom, was die brandweer reeds daar. Ons is so dankbaar vir mense se vinnige optrede en almal se hulp. Daar is eintlik nie woorde om te beskryf hoe die mense ons bygestaan het nie. ’n Mens is so moedeloos wanneer so iets gebeur, maar mense en die gemeenskap dra ons hierdeur.”
Martie sê die forensiese span wat die ondersoek gedoen het, sê die brand het ontstaan weens ’n foutiewe kabel in die dak. Die oorsaak kan moontlik die gevolge van beurtkrag en die aanhoudende aan- en afsit van die kragtoevoer wees.

Die huis ná die brand. Foto verskaf
Die gesin bly op die oomblik almal in die woonstel wat ook op hul erf is. Die huis gaan heeltemal herbou moet word en die versekering is besig met die eis.
“Ons wil uit ons hart uit vir mense dankie sê vir hul bystand en hulp. Vandat die brand plaasgevind het, het almal ons net oorval met hulp. Van water tot splinternuwe skoolklere vir Klara. Selfs van vreemdelinge. Mense het geen idee wat dit vir ons beteken nie.”

Martie van der Merwe troos haar dogter, Klara, ná die brand. Foto: Cornelia Hitge/Potchefstroom Herald
Sy sê daar is altyd hoop en dit is waarop hulle nou konsentreer. “Alles waarvoor ons gewerk het, is weg, maar niemand het hul lewe verloor nie en daarvoor dank ons ons Hemelse Vader.
