Central SA
Tiende Familietrekkerfees in Bloemfontein gehou─── ZENANDE MPAME 12:06 Mon, 09 Oct 2023
“Vanjaar was daar 70 trekkers, 70 enjins en 97 uitstallings.”
Die Familietrekkerfees is die naweek by die Ferreira-museum by Kwaggafontein aangebied.
Jonk en oud kon dit geniet om na al die veteraantrekkers en -enjins te kyk. Die aktiwiteite het demonstrasies van 'n stoomenjin en ’n ploeg ingesluit, asook die aanskakeling van die trekkers se enjins Die ses- tot tienjariges het ook hul vernuf gewys in ’n kabouterbraaikompetisie.

Die kleinspan het die kabouterbraaikompetisie geniet. Foto verskaf
“Die atmosfeer by die fees was heerlik. Daar was baie besoekers en almal het dit geniet,” sê Rudie Herbst, die organiseerder.
Die fees is in samewerking met die Sentraal-Vrystaat-Veteraanrtrekker-en-enjinklub aangebied. Dit het saamgeval met die eindronde van die tweejaarlikse nasionale enjinrestourasie-uitdaging vir jong restoureerders. Vanjaar was daar 26 finaliste in die enjinherstelkompetisie.

Boere kon ook in die parade spog met hul trekkers. Foto verskaf
“Die skou word elke jaar groter. Vanjaar was daar 70 trekkers, 70 enjins en 97 uitstallings,” sê Herbst. Minstens 1 700 mense het die twee dae van die fees bygewoon. Die musikant Etiëne de Koker het die feesgangers vermaak.
