Central SA
Philippolis bring hulde aan Emily Hobhouse─── ELSABÉ DE JAGER 07:01 Wed, 11 Oct 2023
Voortaan sal jaarliks ’n geleentheid ter ere van Emily Hobhouse, uitsonderlike kampvegter vir geregtigheid, gehou word.
As deel van Philippolis se 200ste verjaarsdagviering eer die Vriende van Emily Hobhouse vandag haar nagedagtenis deur die onthulling van ’n gedenktuin.
Met haar aankoms vroeg in 1905 op Philippolis begin Hobhouse se reuse-taak om die verslae Boerefamilies, wat byna alles tydens die oorlog verloor het, te help om met waardigheid weer te begin lewe. Sy word beskryf as ’n ware gemeenskapsontwikkelaar wat haar tyd ver vooruit was.
Retha du Plessis, organiseerder van die huldigingsgeleentheid, vertel van die Hobhouse gedenktuin op die dorp. ’n Gedenkteken is in 1971 opgerig deur die Vrystaatse Vrouelandbou-unie in dié tuin. Deur die jare het die tuin ongelukkig verval en inwoners het in die negentigs met opknappings- en instandhoudingswerk begin.

Emily Hobhouse (1860–1926). Foto: Facebook
In 2022 word die Vriende van Emily Hobhouse tot stand gebring. Onder voorsitterskap van Kobie Gouws streef dié groep daarna om die nagedagtenis en nalatenskap van Hobhouse in ere te hou en die waardes wat sy nagestreef het te bevorder.
Tydens vandag se verrigtinge, wat plaasvind in die NG kerkgebou, lees die aktrise Marion Holm die toespraak voor wat Hobhouse tydens die opening van die Vrouemonument in Bloemfontein in 1913 gelewer het. Elsabé Brits, joernalis en skrywer van die boek Geliefde verraaier, sal gesels oor die agtergrond van dié toespraak. Nicolene Gibbons, musiekdosent aan die Vrystaatse Universiteit en inwoner van Philippolis, sal ’n musiekuitvoering lewer.
Julie Lategan, wat die leiding geneem het met die tuinuitleg, neem vanmiddag die onthulling daarvan waar. Tydens die geleentheid sal adv. Colin Steyn ’n paar woorde spreek. Die verrigtinge word afgesluit met ’n middagete in die gemeentesentrum.

In dié gebou op Philippolis begin sy in 1905 ’n weefskool vir vroue. Foto: Facebook
Du Plessis sê daar sal voortaan jaarliks ’n geleentheid ter ere van Emily Hobhouse, uitsonderlike kampvegter vir geregtigheid, gehou word.
OFM Nuus/Elsabé de Jager
