Central SA
Gidshonde die ringdraers op Paralimpiese atleet se troudag in Bloemfontein─── KAREN VAN DER BERG 11:16 Wed, 11 Oct 2023
“Die twee gidshonde Oakley en Isabel was so soet in die kapel en het heeltyd stil gelê.”
Dit is nie aldag wat ’n mens die geleentheid kry om die fotograaf op ’n Paralimpiese atleet se troudag te wees nie – en dit met haar gidshonde as ringdraers. Dié eer het die Bloemfonteinse fotograaf Mandie Niemann die afgelope naweek te beurt geval toe sy op Louzanne en Jeandré Badenhorst se mooiste dag die foto's geneem het.
Die troue het by The Willows buite Bloemfontein plaasgevind, en Niemann sê dit was ’n prentjiemooi dag en alles was perfek. Die silwer- en bronsmedaljewenner en haar kêrel van die afgelope vier jaar se dag was perfek.
Die gidshonde Isabel (haar nuwe hond) en Oakley (wat nou afgetree het) was so gehoorsaam en regtig ’n fees om mee te werk, vertel Niemann.

Die gidshonde Oakley en Isabel was stroopsoet. Foto: Mandie Niemann Photography
“Hulle was so soet in die kapel en het heeltyd stil gelê todat Estean, Jeandré se broer, en Anmari, Louzanne se suster, hulle vorentoe geneem het. Hulle het spesiale jassies aangehad, waaraan klein tekkies was, en die ringe was aan die veters van hierdie tekkies vasgemaak.”
Jeandré het in September verlede jaar vir Louzanne met tekkies op die atletiekbaan gevra om te trou.
Hy en die fotograaf het vooraf gesels oor hoe sy te werk kan gaan om Louzanne te help poseer vir die foto’s. Dit is die eerste keer wat sy ’n blinde bruid of bruidegom se troudag afgeneem het. Sy vertel Louzanne het alles in haar vermoë gedoen om die foto’s te laat werk.

Die troue het by The Willows buite Bloemfontein plaasgevind. Foto: Mandie Niemann Photography
“Alles het so goed gegaan en sy was net wonderlik. Sy het so ’n groot persoonlikheid en ’n mens kan net nie help om lief te wees vir haar nie. Ek ken Jeandré al ’n paar jaar en hy is rustig en kalm. Hulle is gemaak vir mekaar.”
