Central SA
Noord-Kaap se gewese gesondheidshoof weer aangekeer vir korrupsie─── LUCKY NKUYANE 10:13 Thu, 12 Oct 2023
Dr. Dion Theys, voormalige Departementshoof van Gesondheid, is weer in die moeilikheid.
Dr. Dion Theys, voormalige Departementshoof van Gesondheid, is vanjaar vir die tweede keer in hegtenis geneem vir ’n saak wat verband hou met die korrupsie van persoonlike beskermende toerusting.
Theys het Woensdag (11/10) in die landdroshof in Kimberley verskyn op aanklagte van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, bedrog, korrupsie, vervalsing, geldwassery en regsverydeling.
Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Theys (56) en Daniel Mosimanegape Gaborone (54), voormalige finansiële hoof, het saam met 12 beskuldigdes in die hof verskyn, insluitende maatskappye en diensverskaffers.
Borgtog van R2 000 is aan Theys toegestaan en R1 000 aan Gaborone. Die saak is tot 29 Januarie 2024 uitgestel. OFM Nuus het vroeër berig Theys is ook uit op borgtog vir ’n ander saak wat ook verband hou met persoonlike beskermende toerusting.
Hy is skuldig bevind aan die oortreding van die bestuursproses in die voorsieningsbestuursketting en is tot tronkstraf of ’n boete gevonnis.
Theys se vonnis is ’n boete van R150 000 of drie jaar tronkstraf waarvan R100 000 of twee jaar tronkstraf vir vyf jaar opgeskort word op voorwaarde dat hy nie weer aan dieselfde oortreding skuldig bevind word nie.
“Die saak spruit uit ’n kontrak wat van 11 Maart tot 6 Augustus 2020 deur die Departement van Gesondheid onreëlmatig aan Macronym 37 (PTY) LTD toegeken en betaal is sonder om die behoorlike prosedure te volg,” sê Senokoatsane.
Die beskuldigdes moes hul paspoorte inhandig en mag nie die getuies intimideer nie.
OFM Nuus

