Central SA
Gemeenskapslede rand opvoeders in Noordwes aan─── KEKELETSO MOSEBETSI 15:27 Thu, 12 Oct 2023
“As departement en onderwysgemeenskap is 'n klap vir een opvoeder 'n klap vir ons almal.”
Die Departement van Onderwys in Noordwes het sy kommer uitgespreek oor die aanranding van twee onderwyseresse in Mahikeng.
Die twee vroue (27 en 46 jaar oud) van die Dingateng Primary School en die Mathateng Primary School is Woensdag (11/10) deur inwoners van Masamane Village aangerand. Die voorval het plaasgevind terwyl hulle op pad skool toe was. Hulle is aangeval glo weens ’n verkeerde aanstelling van assistent-onderwysers en algemene werkers by die Masamane Primary School.
Viola Motsumi, LUR vir Onderwys in Noordwes, het haar teleurstelling uitgespreek oor gemeenskapslede wat by die voorval betrokke was.
“As departement en onderwysgemeenskap is 'n klap vir een opvoeder 'n klap vir ons almal. Ek sal seker maak dat geregtigheid geskied. Ons vier hierdie maand onderwysers en die barbaarsheid moet nou eindig,” sê sy.
Mphata Molokwane, departementele woordvoerder, sê die twee personeellede sal berading ontvang. ’n Gemeenskapsvergadering sal Donderdag (12/10) by Masamane Village gehou word om die gemeenskap se uitdagings te bespreek.
