On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Boekliefhebbers beleef onbaatsugtige liefde in boeketent

───   ELSABÉ DE JAGER 09:19 Fri, 13 Oct 2023

Boekliefhebbers beleef onbaatsugtige liefde in boeketent | News Article
In ’n emosionele boodskap het Annelie haar Gryse aan die woord gestel. Foto verskaf

"Vandag gee ek vir julle die beste iets wat ek in die lewe het, my ou Gryse."

Boekliefhebbers uit alle uithoeke van die land het vandeesweek by die Woordfees op Stellenbosch die ware betekenis van onbaatsugtige liefde ondervind met die bespreking van die bekroonde skrywer Annelie Botes se nuutste roman “Katvis”.

Botes het dié roman, wat deur vele lesers as ’n ware riller beskou word, onder uiters moeilike omstandighede voltooi. Nadat sy die afgelope drie jaar in erge pyn geleef het weens chroniese infeksie, is haar regterbeen vroeër vanjaar geamputeer. 

Hoewel ’n suikersiektelyer, glo sy die infeksie was ook ’n aanleidende faktor tot die gangreen wat in haar been ontwikkel het. Sedert die amputasie het sy nog méér operasies ondergaan.

Botes se aanhangers was uiteraard teleurgesteld dat sy vanjaar nie die Woordfees kon bywoon nie, het hulle die omstandighede onvoorwaardelik aanvaar. Groot was die opgewondenheid dus toe aangekondig word dat Botes se Gryse, soos sy haar wederhelf van byna ’n halfeeu noem, namens haar ’n boekbespreking sou aanbied.

"Katvis" is die 17de roman uit Botes se pen.

“Vandag gee ek vir julle die beste iets wat ek in die lewe het, my ou Gryse. Help hom om deur hierdie uur te kom, wees goed vir hom, want hy doen dit vir my,” het Annelie die gehoor tydens ’n emosionele video-groeteboodskap uit Gqeberha versoek.

Annelie se Gryse, Chris, wat self erken hy tree nie graag voor gehore op nie, het die gehoor aan sy voete gehad van die aanvang van die gesprek af. Hy het die agtergrond van “Katvis” geskets en vertel hy het begrip vir lesers wat dit as ’n donker verhaal beskryf. Die ontstellende verhaal ontvou in die kelder van ’n afgeleë plaashuis waarheen Maria, wat ontsnap het uit ’n ongelukkige huwelik, deur ’n man gelok is en daar vir maande aangehou en mishandel is.

Hy het vertel dié roman het ontstaan ná ’n ware gebeurtenis wat in Port Elizabeth afgespeel het. ’n Vrou wat deur ’n man na sy huis genooi is, is in die haglikste omstandighede denkbaar gevange gehou en ’n koerier wat onraad vermoed het, het tot haar redding gekom.

Chris Botes het die gehoor in sy hand gehad. Foto verskaf

Chris sê hoewel hy nie self ’n skrywer is nie, lééf hy die navorsing, die skryfproses en die kommentaar van al Annelie se boeke. Sy antwoord aan lesers wat beweer Annelie se boeke lees nie “lekker” nie, is dat Annelie nie “lekker” boeke skryf nie. Sy skryf, om sy eie woord te gebruik, nie ontsnappingslektuur nie. Annelie slaag egter meesterlik daarin om altyd die donkerte na lig te lei.

Vir haar Gryse, wat die pad van onafwendbare pyn en swaarkry tree vir tree saam met Annelie gestap het die afgelope tyd, was daar aan die einde van die bespreking in die boektent waardering, respek en applous van die gehoor. Die liefde en omgee van dié twee mense se wedersydse ondersteuning, bewondering en onbaatsugtigheid is inderdaad ’n roman, ’n verhaal vol lig, opsigself.  

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.