Central SA
Noordwes-sakekonsortium in arres weens afpersing, intimidasie─── ZENANDE MPAME 16:13 Fri, 13 Oct 2023
“Hierdie groep het die stortingsterrein geteiken deur dit in die week van 2 Oktober te sluit.”
Ses lede van ’n sakekonsortium is Dinsdag (10/10) op aanklagte van afpersing, intimidasie en roof in Potchefstroom in hegtenis geneem. Hulle het Donderdag (12/10) in die hof verskyn vir 'n formele borgtogaansoek.
Die groep het na bewering vullisverwyderingsvragmotors van die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit verhinder om afval by die Potchefstroom-stortingsterrein af te laai.
Die beskuldigdes – Brownwell Magasi (44), Adams Clint (44), Stuart Scharick (37), Majob Isaac (40), Klaasen Fernando (32), en Morné Draai (36) – is borgtog van R1 000 elk toegestaan en die saak is tot volgende week Donderdag uitgestel.
“Hierdie groep het die stortingsterrein geteiken deur dit in die week van 2 Oktober te sluit. Hul optrede het hierdie week sodanig geëskaleer dat hulle een van die vragmotors se sleutels afgeneem het en na bewering gedreig het om die span van die JB Marks-munisipaliteit met klippe te bestook,” sê VF Plus-raadslid Marlene Steyn du Toit.

Die sakekonsortium het gedreig om die munisipale span van JB Marks met klippe te bestook. Foto verskaf
OFM Nuus het vroeër berig dat afvalverwydering in die JB Marks Munisipaliteit onlangs agterweë gebly het, wat inwoners in ’n haglike situasie laat.
Die groep het Woensdag (4/10) ’n brief aan die munisipale bestuurder geskryf en ’n vergadering geëis.
“Op die vergadering het die groep glo werk geëis en gedreig om die stortingsterrein te sluit. Die groep het daarna die hekke van die stortingsterrein gesluit en die vragmotors verhinder om afval af te laai, en sodoende dienslewering aan die gemeenskap belemmer,” sê. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes.
Die groep het Maandag (9/10) weer die hek gesluit en die pad na die stortingsterrein met klippe versper. Een van die vragmotors se sleutels is ook gewelddadig by die bestuurder afgeneem en die vragmotor is ook gebruik om die pad te versper.
Die groep het die sleutels van een van die vragmotors geneem en die terrein daarmee afgesper. Foto verskaf
“Die munisipale bestuurder en senior bestuur van die munisipaliteit was in gesprek met die groep om ’n oplossing vir hul griewe te vind.”
“Hul griewe spruit na bewering uit die aanstelling van ’n nuwe diensverskaffer. Ons verstaan egter dat van die skuldiges nie inwoners van JB Marks is nie,” sê Steyn du Toit.
Die polisie se taktiese reaksiespan en eenheid vir openbare orde is na die toneel ontbied en die pad is skoongemaak.
