Central SA
Kunste in Bloemfontein getooi in nuwe jas─── ELSABÉ DE JAGER 12:12 Mon, 16 Oct 2023
“Voorwaar ’n milieu wat my omring met dit wat daagliks met my hart en siel praat en my verryk.”
“Daar is altyd hoop. Daar is altyd besigheid. Dink uit die boks, gebruik inisiatief, wees kreatief. Máák dinge werk.”
Vir Floris Kotzé, eienaar van die Kotzé Kunsgalery in Bloemfontein, breek die dag van môre altyd met nuwe lig. Hoewel die swaarkry van die afgelope drie jaar ook aan sy besigheid kom klop het, het hy altyd ’n silwer randjie gesien. Hy het besluit om sy hand uit te steek na kunstenaars wat ander vorme van kreatiwiteit beoefen, en saam-saam vir die kunste in Bloemfontein ’n nuwe kleurvolle jas aan te trek.

Floris Kotzé, eienaar van die Kotzé Kunsgalery in Bloemfontein. Foto: Facebook
Sou jy sê die wêreld van visuele kuns het daadwerklik verander sedert 2020?
Ek dink die meeste van ons wil deesdae van dié vernietigende tyd in ons lewe vergeet. Die kunswêreld was Covid-19 se tentakels inderdaad nie gespaar nie. Die voortbestaan van kuns se redding het gelê in virtuele en aanlyn besigheid. Ons moes leer om die fokuspunt te verskuif.
Die Kotzé Kunsgalery bestaan sedert 2005 en dit het deur die jare ’n gemaksone vir my geraak, waar klante in en uitbeweeg het. Skielik was die deure toe en aanlyn besigheid het oornag noodsaaklik geraak. Wat wel gebeur het, is dat individuele kunstenaars in dié tydperk wegbeweeg het van die kunsgalery as tussenganger, en self virtueel begin bemark het. Dit het galerye sonder twyfel swaar getref.

Meer as 300 skilderye hang teen die Kotzé Kunsgalery se mure. Foto: Facebook
Dink jy die dae van voltydse kunstenaars is getel?
Beroepskunstenaars streef daarna om op te staan en te werk waar hulle wil. Hulle wil daagliks, sonder enige grense, uiting gee aan hul inspirasie en Godgegewe talent. Tog word hulle so dikwels teruggeruk na die realiteit wanneer maandeinde nadersluip en die beursie leeg is. Daar heers ’n alewige konflik tussen romantiek en realiteit. Dis ’n stryd wat nie net uit Covid-19 gebore is nie, maar nog altyd bestaan. Hoewel dit ideaal is om ’n beroepskunstenaar te wees, is dit min mense beskore.
‘To only paint, or to do some 8 to 5 and paint, that is the question.’
Dit is egter moontlik om jou ware passie uit te leef terwyl jy ’n ander beroep beoefen. My pa, Kobus Kotzé, is ’n sprekende voorbeeld hiervan. As landboukundige het hy slegs saans tyd gehad om hom af te sonder in sy studio en tyd as landskapkunstenaar te geniet.
Is die aanname korrek dat kunswerkeienaars deesdae meer kunswerke wil verkóóp as áánkoop?
Ons ervaar ongelukkig, veral sedert 2020, ’n aansienlike afname in vraag na kuns en ’n groot toename in aanbod. Baie goeie kunsvoorraad, teen baie realistiese pryse kom oor ons pad, wat natuurlik ’n uitstekende kopersmark daarstel. Die kopers en die geld is ongelukkig veel minder as voorheen.

Die Kotzé Kunsgalery ondergaan ’n restourasieproses. Foto: Facebook
Julle berei voor vir ’n nuwe roete om in die toekoms te volg. Hetsy ’n skilder, meubelmaker, beeldhouer, ramer – almal is immers kunstenaars. Hier is ’n groot samewerkingsooreenkoms wat wag in die galery. Kan jy vir ons al meer vertel daarvan?
Waarom moet ons altyd voorgee dat dit goed gaan terwyl dit nie die geval is nie? Die feit is, met die kunste gaan dit nie goed nie. Ook ons eie galery is reeds vir ’n paar jaar onder erge finansiële druk. ’n Houtwerkkunstenaarsgesin het ’n tyd gelede my pad gekruis. Handgemaakte, eksklusiewe meubelstukke word deur hulle vervaardig. Die Labuschagne-gesin was op soek na ’n vertoonlokaal in Bloemfontein vir hul pragskeppings. Die galery moes in daardie stadium indringend oor sy voortbestaan besin. Sonder ’n helpende hand was die toekoms donker.
Die hele galery word getransformeer. Die kunsvoorstelling trek ’n splinternuwe baadjie aan. Aanbieding van skilderye in die galery word verminder, om ruimte te skep vir kuns in die vorm van meubels, asook dekorelemente wat deur Trends and Treasures uitgestal en te koop aangebied word.
Die Kotzé-familie is geliefd en deel van die Bloemfontein-familie. Albei jou ouers en sibbe is gerekende kunstenaars. Vandaar die liefde vir kuns ook by jou?
Die spore van die Kotzé Kunsgalery neem jou terug tot 1967 na die plaas Uitsig buite Aliwal-Noord, waar Kobus Kotzé vir sy 37ste verjaarsdag ’n stel kwaste en verf by sy broer present gekry het. Jare later het my twee susters, Hanlie en Mariaan, hulle ook sterk as beroepskunstenaars in die kunste gevestig. ’n Paar jaar later het ook my ma, Joe, begin skilder. In 2005 het my vrou Anine haar óók voltyds by ons in die galery aangesluit. Voorwaar ’n milieu wat my omring met dit wat daagliks met my hart en siel praat en my verryk.
Ná die dae van swaarkry en uitdagings gooi die kunsmeesters van Bloemfontein dus eersdaags ’n jas van harmonie tussen skilderye, meubels, dekor en handgemaakte geskenke oor, vir elke Bloemfonteiner om te kan waardeer en te kan geniet.
