Central SA
Klerksdorp: Jong man vermis nadat hy getroude vrou sou ontmoet─── HEIDRÈ MALGAS 14:03 Mon, 16 Oct 2023

“In die boodskappe is James Swanepoel beledig en is daar gedreig dat hy sal verdwyn.”
James Swanepoel word sedert 17 September vermis en sy familie is rasend van bekommernis. Voor sy verdwyning sou hy iemand met wie hy glo in 'n verhouding was, by ’n winkelsentrum in Songloed, Klerksdorp, ontmoet het.
Sy ma, Natasha Swanepoel, sê James het ’n verhouding gehad met ’n getroude vrou en haar man het glo dreigende boodskappe na James op Facebook gestuur. Swanepoel sê sy het hom as vermis by die polisie aangegee nadat hulle vir ’n paar dae niks van hom gehoor het nie.
“Ons is baie bekommerd omdat daar boodskappe gestuur is, wat nou ewe skielik verwyder is. In die boodskappe is James beledig en is daar gedreig dat hy sal verdwyn.”
James Swanepoel het ’n tatoeëermerk op sy bo-arm van sy seun, Ethan. Foto: Facebook
Sy sê haar seun sal nie net verdwyn nie. Hy sou haar gekontak het as iets verkeerd was of hy moes weggaan veral omdat sy seun, Ethan (5), by haar bly.
"James het nog nooit verdwyn nie. Hy was toegewyd en het nie probleme met mense gehad nie, behalwe met die man van die getroude vrou. James is ’n baie vriendelike kind."
Sy vertel haar kleinseun elke dag dat hulle na sy pa soek.
James se wit Toyota Sprinter se nommerplaat is NLF 813 GP, maar dit kon nog nêrens gevind word nie. Enigeen met inligting kan Jacobus Gabanyane, ondersoekbeampte, by 082 416 0817 bel. Die inligting sal vertroulik hanteer word.