Central SA
Storm in die Vrystaat saai verwoesting─── KAREN VAN DER BERG 09:37 Tue, 17 Oct 2023

’n Ongekende storm in die Suidwes-Vrystaat het verwoesting op plase gesaai toe dakke afgewaai is, bome uitgeruk is en soos vuurhoutjies versprei lê, en skade aan infrastruktuur wat derduisende rande beloop.
Die storm wat Donderdagmiddag tussen 14:20 en 15:00 plaasgevind het, het met stormsterk winde, reën en hael gepaard gegaan.
Yolandé du Toit, wat 28 weke swanger is, en haar sesjarige dogter, Beandri, het ten tye van die storm in die kamer geskuil omdat Beandri bang was. Toe hulle uitkom was hulle huis se dak afgewaai en daar was verwoesting op hulle erf. Hulle woon op die plaas Lemoenfontein, sowat 50km van Boshof.
Sy vertel hulle was by die huis en dit was net ná middagete. Die wind het al hoe sterker begin waai.
Die skade op Yolandé se plaas. Foto verskaf
“Die wind het erg gewaai. Dit het eintlik so rooi begin raak soos die rooigrond begin waai het. Dit het donker begin word en iets het gedreun, soos iets wat aankom.”
Yolandé vertel dit het vreeslik geraas.
“Toe alles kalmeer en ons uit die kamer kom, het ek eers besef hoe groot storm dit was. Ons dakke en plafonne was af, ek kon die lug sien. Alles was oop.” Sy sê dit is toe wat sy besef het dit was ’n ander soort storm wat alles geruk en gedraai het.
Francois van der Berg (7) staan by ’n peperboom wat met wortel en al deur ’n wind omgewaai is op hulle plaas Witkraal. Foto: Dewald van der Berg
“Ek dink omdat ek nie dadelik besef het wat aangaan nie, was die skok eers erg ná die tyd.”
Sy sê die ergste skade is aan die kombuis-area aangerig. “Al daai rommel het in die kombuisarea geval. Ons stoor en waenhuis se mure het ook omgeval. Alles wat daar binne was, het in ons erf gelê.” Yolandé sê hulle sal mettertyd nog agterkom hoe groot die skade werklik was.”
Dit is beslis die grootste storm wat sy in al haar jare in die distrik beleef het. Sy en haar man, Henco. Beandri en hulle ander dogtertjie, Jumari, woon tydelik nou eers by haar broer hulle op ’n plaas 18km van daar af.
Groot peperboom op die plaas Witkraal wat omgewaai het. Foto: Dewald van der Berg
• Ook op die plaas Witkraal in die distrik Petrusburg is heelwat skade aangerig tydens die storm. Talle dakke is van geboue afgewaai en ’n groot sonpaneelstelsel het in die slag gebly.
Christof van der Berg, wat op die plaas woon, sê hoewel die skade groot is, is die skade aan jare oue bome die ergste, omdat die groot bome soveel sentimentele waarde het. Op die plaas het nagenoeg 25 groot bome omgewaai. “Dit is onvervangbare skade. Dit is bome wat reeds dekades lank staan en deel is van die plaas.”