Central SA
Gesteelde Yorkie van Potchefstroom veilig tuis─── KAREN VAN DER BERG 08:34 Wed, 18 Oct 2023

“Dit is verskriklik om deur so iets te gaan en nie te weet waar is ’n mens se hond nie.”
Hulle het gebid dat iemand die plasing oor hul verlore hondjie op Facebook sien en hulle bel en sê hy is gevind. Minute later het presies dit gebeur.
So vertel Schandry Kuhn van Potchefstroom oor die wonderbaarlike gebedsverhoring toe sy en haar verloofde, Tiaan Grobler, hul hondjie weer gevind het. Kilo is ’n yorkie van een jaar en agt maande. Hy is gesteel en verkoop aan mense van Secunda.
Die drama het op Sondag 8 Oktober begin. Schandry sê die familie het saam gekuier en laat-ontbyt gemaak. Kilo was heeltyd rondom hulle. Ná ete het sy bietjie gaan rus en sowat ’n uur later het Tiaan haar wakker gemaak om te sê Kilo is weg.
“Ons het onmiddellik begin om na hom te soek.” Hulle het mense gebel, rondgery en onverpoos gesoek. Sy sê hulle het byna deurnag gesoek.
“Dit is verskriklik om deur so iets te gaan en nie te weet waar is ’n mens se hond nie. Jy voel so magteloos.”
Die Maandag het hulle aanhou soek.
Schandry Kuhn en Tiaan Grobler, haar verloofde, saam met Kilo. Foto verskaf
“Die mense van Potchefstroom was so goed vir ons. So baie het aangebied om te help soek. Ons is so dankbaar vir hulle.”
Schandry sê teen Maandagaand was hulle moeg gesoek en verpletter. “Ek het vir Tiaan gesê ons moet ’n bietjie rustig raak en saam bid. Dit is toe dat ons bid iemand sien ons advertensie raak en bel ons om te sê hulle het Kilo.”
Dit is presies wat toe gebeur het. ’n Paar minute later het haar selfoon gelui. Dit was mense van Secunda wat gesê het hulle vermoed hulle het Kilo. Nadat hulle vir Schandry foto’s gestuur het, het hulle besef dit is hul hond.
Schandry sê die familie het dié Sondag deur Potchefstroom gery nadat hulle die naweek in Parys was. ’n Man het hulle by ’n vulstasie in die nywerheidsgebied genader en gesê hy kan nie meer vir die hond sorg nie en moet kos vir sy kinders koop. Hulle het die hond vir R500 gekoop want hulle was bang die hondjie bly dalk in slegte omstandighede.
Sy en Tiaan het onmiddellik na Secunda gery en vir Kilo gaan haal.
Kilo is verkoop en weer gevind. Foto verskaf
“Hy was so bietjie getraumatiseerd en het hom bietjie eenkant gehou. Maar hy is nou weer reg. Ons is so dankbaar vir almal se hulp en veral vir die mense van Secunda wat die advertensie gesien het en ons gebel het. Mens kan sien hulle is lief vir diere en wou net die beste vir Kilo gehad het.”
Hul grootste dank gaan aan die Here wat hul gebed verhoor het.
Schandry sê hulle vermoed hulle weet wie die man is wat die hond gesteel het. Die saak is reeds by die polisie aangemeld en word ondersoek.