On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan OFM
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Central SA

Hoërskool Fichardtpark spog met beste onderwyseres in Toerisme

───   HEIDRÈ MALGAS 11:48 Thu, 19 Oct 2023

Hoërskool Fichardtpark spog met beste onderwyseres in Toerisme | News Article
Marie-Louise Swanepoel, ‘n onderwyseres aan die Hoërskool Fichardtpark. Foto verskaf

“Vir 2024 beplan ek om my leerders te help met kort kursusse wat deur SA Toerisme en die GTTP-SA aanlyn aangebied word. Hierdie is ‘n erkenning en kwalifikasie wat hulle reeds kan verwerf voordat hulle skool verlaat.”

Marie-Louise Swanepoel, ‘n onderwyseres aan die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein, is op die NTCE se galadinee in Johannesburg aangewys as die nasionale wenner in die kategorie, Toerisme-onderwyser van die Jaar.

Die toekenning word jaarliks deur die GTTP-SA gedoen (Global Travel and Tourism Partnership – South Africa).

Swanepoel sê alle eer aan die Here en dat dit vir haar ‘n ongelooflike eer is om op hierdie vlak só erkenning te kry.

Marie-Louise Swanepoel, ‘n onderwyseres aan die Hoërskool Fichardtpark, gee Toerisme vir gr. 10-12 leerders. Foto verskaf

“My leerders en Hoërskool Fichardtpark se belange kom altyd eerste.  Ek is ‘n mense-mens.  Ek sê altyd aan my leerders werk maak sterk. Dis die motto wat ons in my klas uitleef. As ons speel, speel ons en as ons werk, werk ons baie hard.” 

Sy sê dat toerisme vir haar leerdeers dié lekkerste vak moet wees en iets waarna hulle elke dag sal uitsien, want hulle weet nooit wat om te verwag nie. Hulle vernuwe elke dag wat hulle doen in Toerisme om op datum te bly met wat in die praktyk aangaan. Nuwe tendense word altyd dopgehou.

Marie-Louise Swanepoel se leerders dat toerisme deel van elke dag is. Foto verskaf

“Ons maak gebruik van ‘n nuwe toepassing waar vrae aan leerders gestel word in die formaat van ‘n speletjie. Ons speel ook bordspeletjies in die klas om ons kennis te verbreed. Visuele elemente word daagliks gebruik. Leerders gee ook self klas en dit geniet hulle baie. ‘n Groot toer word in 2024 beplan,” vertel Swanepoel.

Sy sê haar toerisme-onderwys het ‘n groot indruk op haar leerders gemaak en hulle leer dat toerisme deel van elke dag se bestaan is.

“Van my oudleerders moes ook as deel van die toekenning terugvoer oor my gegee het en hoe hulle my as onderwyser ervaar het. Hier het ek besef watter invloed enige onderwyser op ‘n kind se lewe kan hê. Ons as onderwysers moet nooit vergeet ons werk met die kroon van God se skepping nie.” 

Sy sê altyd aan haar leerders dit is vir haar belangriker dat hulle die lewenslesse wat sy hulle leer, sal onthou, ook wat sy hulle van die Here leer, as wat hulle Toerisme as vak sal onthou. “Ek wil elke kind in my klas in totaliteit opvoed en as ‘n gesonde jong volwassene die toekoms kan instuur.

“Ek gee by ander skole ekstra klas en geniet dit ongelooflik om iets vir kinders te kan beteken en vir 2024 beplan ek om my leerders te help met kort kursusse wat deur SA Toerisme en die GTTP-SA aanlyn aangebied word. Hierdie is ‘n erkenning en kwalifikasie wat hulle reeds kan verwerf voordat hulle skool verlaat.” 

OFM Nuus/Heidré Malgas

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.