On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Ashmund
Show Background
NEXT: 09:00 - 13:00 The Central SA Top 40 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Kleurvolle kunstenaar kuier weer in Bloemfontein

───   ELSABÉ DE JAGER 14:38 Fri, 20 Oct 2023

Kleurvolle kunstenaar kuier weer in Bloemfontein | News Article
Melinda en Dina, ewe kleurvol. Foto verskaf

"Om die Groblers verlede jaar te moes groet, was soos om ’n kleurvolle lappie uit ’n kombers te torring."

“Nêrens in die land vind jy soveel kreatiwiteit op een plek bymekaar soos in Bloemfontein nie.”

So ’n uitspraak, komende van ’n kunstenaar soos die kleurryke Dina Grobler, gaan lê warm in elke Bloemfonteiner se hart. Grobler is die naweek terug in die stad om ’n kursus in vormgieting aan te bied.

Dina en haar man, Wollie, het in Mei 2022, ná sy aftrede as predikant van die Klipkerk, die Vrystaat verruil vir Heidelberg in die Wes-Kaap. Hulle het 31 jaar hier gewoon. As kunsdosent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en ook eienaar van die Firefly Studio in Bloemfontein het sy diep spore vir vele studente agtergelaat. Deur baie jare is naweke  gevul met klasse in beeldhouwerk, skets, ets, lino, syskerm, skilder en keramiek.

By My Blom word gekuier en geleer. Foto verskaf

Met ’n lewe wat wye draaie gegooi het voordat sy haar ware passie, kuns, kon begin uitleef, glo Dina dat kreatiwiteit ’n mens waarlik laat lewe en ook jonger maak. Nadat sy haar studie in musiek en later ook in verpleging voltooi het, neem die grootmaak van haar kinders haar tyd in beslag. 

Op 50, met die geld wat eintlik vir die aankoop van ’n motor bedoel was, koop sy ’n klein bromponie en word die res gebruik om in te skryf vir haar kunsstudie aan die UV. Sy vertel dié storie graag om as inspirasie te dien vir dié wat dink die tyd om iets nuuts aan te pak, het ’n vervaldatum.


Die kursus in vormgieting word Saterdag by My Blom, ’n studio net so kleurvol soos Dina self, aangebied. Melinda Bekker, eienaar van die studio, sê dis altyd ’n heuglike gebeurtenis wanneer Dina haar kunstalent met kursusgangers kom deel. Dina is opgewonde om die kursus saam met Hendrik Thiart, vir wie sy as ’n meester in vormgieting beskou, aan te bied. Rudolf Bitzer, argitek en ook kunstenaar wat vorms met die meng van was en klei giet, sal ook bystaan as aanbieder.

“Om die Groblers verlede jaar te moes groet was soos om ’n kleurvolle laslappie uit ’n kombers te torring”, sê een van ds. Wollie se gemeentelede. Wie sal ooit die Groblers se interessante 35ste huweliksherdenking in 2016 vergeet? Hulle het ’n begrafnisfees in hul tuin gehou om afskeid te neem van die blou Ford Escort wat hulle destyds as trougeskenk van Dina se ouers ontvang het. Gaste was in swart geklee en regte begrafniskos is daardie dag  bedien.

Dina Grobler sal Bloemfontein nooit vergeet nie. Foto: Facebook

Al is Bloemfontein armer sonder die Groblers, keer Dina steeds dikwels terug na haar Vrystaatdorp. As dosent besoek sy die UV drie maal per jaar. Sy gebruik dan ook die geleentheid om haar kunsvriende op te soek en nuwe kursusse aan te bied, soos dié naweek. Die Rooikat, soos Wollie haar altyd noem, kom altyd weer.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.