Central SA
Een mens sterf in vliegongeluk by Bloemfontein-lughawe─── LUCKY NKUYANE 08:12 Sun, 22 Oct 2023
“Die vliegtuig het in ’n grasveld by die vliegveld vasgevlieg en aan die brand geslaan.”
Een mens is dood terwyl ’n ander een beseer is en mediese behandeling in ’n Bloemfonteinse hospitaal ontvang ná 'n vliegongeluk Saterdag (21/10) in die Vrystaat.
Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het bevestig dat die vliegtuig, vermoedelik ’n Piper, Saterdag omstreeks 09:20 in ’n grasveld by die vliegveld vasgevlieg het en aan die brand geslaan het. Busie Gcali, Acsa-woordvoerder, het gesê die voorval het by die Bram Fischer Internasionale Lughawe plaasgevind. Sy het gesê ten spyte van reddingswerkers se beste pogings om die insittendes te red, is een ongelukkig op die toneel dood. Die ander pasiënt is met ernstige beserings hospitaal toe geneem. Gcali het gesê die oorsaak van die ongeluk sal deur die betrokke owerhede ondersoek word.

"Die Lughawe se Brand & Reddingspan en die paramedici het dienooreenkomstig op die voorval gereageer. Alle relevante plaaslike owerhede, insluitend die SAPD, is na die toneel ontbied. Reddingswerkers het voortgegaan om die brand te blus en noodhulp is op die slagoffers toegepas," het sy gesê.
Die maatskappy het sedertdien sy medelye aan die familie van die oorledene gestuur.
“Acsa wil graag sy meegevoel betuig met die familie en geliefdes van die oorledene en wens die oorlewende ’n spoedige herstel toe,” het Gcali gesê.
