On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Central SA

Week vol stories en skrywers vir Bloemfontein

───   ELSABÉ DE JAGER 13:25 Mon, 23 Oct 2023

Week vol stories en skrywers vir Bloemfontein | News Article
Vir Igno van Niekerk loop leierskap en skryfwerk hand aan hand. Foto: Facebook

Vir hom is alle mense as't ware stories wat asemhaal.

“Ek teken ’n seuntjie met lang, dun arms, met geen hande en mond nie, groot oë in ’n hemp wat tot heel bo styf toegeknoop is.”

So beskryf P.P. Fourie homself as kind in ‘n Hart so groot soos ’n vuis. Dié skrywer neem die eerste sessie waar van die werksessie wat Donderdag en Vrydag vir skrywers en voornemende skrywers in Bloemfontein aangebied word. In sy aanbieding, met die tema Skryf as bevryding, betrek hy kursusgangers by sy eie bevryding wat die skryfproses vir hom gebring het.

 Deur te skryf, al is dit selfs net ’n enkele sin, en al lees niemand dit eers nie, beleef die skrywer die lewe, sê Fourie. Deur per ongeluk te begin skryf, het hy simpatie en empatie vir die mense om hom begin ontwikkel en het hy homself bevry van sy traumatiese kindertyd.

Hulle gesels oor uitkomste wat die skryfproses bring. Foto verskaf

Skryf en stories as vreugde, kreatiewe uitdrukking, terapie en masker is die tema van Vrydag se sessie. Igno van Niekerk, organiseerder van die werksessie, leierskapmentor en self ook ’n skrywer, sê dié aanbieding deur hom, Fourie, Zelda Nel Bezuidenhout en Julio Agrella, skrywer van die Zeus van Wyngaardt-reeks, gaan die kursusgangers toelig oor alle uitkomste wat die skryfproses vir ’n skrywer kan bring.

Vir Zelda Nel Bezuidenhout, uit wie se pen Die waarde van stil bure en Die Dekonstruksie van Retta Blom verskyn het, is skryfwerk ’n maskerlose proses. Vir haar skep skryfwerk ’n veilige plek waarin sy haar vreugde, vrese en verwarring in die lewe kan uitleef.

Belangstellendes kan Van Niekerk kontak by igno@ignovannielerk.com.

Oud en jonk kan dié moordraaisel gaan oplos. Foto verskaf

Groot opwinding wag Vrydagmiddag op alle avontuurlustiges wanneer ’n moordraaisel by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) opgelos moet word. Die scenario van dié raaiselagtigheid behels die soektog na die moordenaar van ’n skrywer wie se lyk in NALN gevind is.  Van Niekerk, breinkind agter dié opwinding, sê die penne van skrywers moet tydens dié speurtog die swaard van die moordenaar oorwin.

Annelien Diederichs, museumgeesteswetenskaplike by NALN, skets die agtergrond. Die owerhede het die drie skrywers wat Bloemfontein vandeesweek besoek, Fourie, Nel Bezuidenhout en Agrella, versoek om die raaisel te kom oplos en die letterkunde-laksman aan die pen te laat ry. Bloemfonteiners, oud en jonk, word genooi om te help met die naspeuring van leidrade en raaisels en uit te vind wat die verse van A.G. Visser met die moord te doen het.


Ná afloop van dié opwindende sessie gesels die drie skrywers ter afsluiting oor die tegnieke wat hulle gebruik om spanning in hul verhale te skep.

Vir Van Niekerk, skrywer van leierskapboeke soos Light on Leadership, loop leierskap en skryfwerk hand aan hand. Elke skrywer is ’n skepper van ’n wêreld, terwyl elke leier ’n skepper is van ’n omgewing, sê hy .Hoewel ’n skrywer baie mág het oor karakters, het ’n leier invloed op karakters.

Vir hom is alle mense as’t ware stories wat asemhaal. Hy hoop om in die drie dae gelaai met skryfavonture, leiding te gee aan elke belangstellende om vreugde en bevryding te vind in die skryfproses.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.