Central SA
Valke klap sweep in Noordwes vir vermeende korrupte verkeersbeamptes─── KEKELETSO MOSEBETSI 15:30 Tue, 24 Oct 2023
“Twee verkeersbeamptes van 30 en 38 jaar oud het na bewering R2 000 se omkoopgeld gevra van ’n motoris wat in hegtenis geneem is weens beweerde dronkbestuur.”
Die Valke in Noordwes gaan voort om die sweep te klap oor verkeersverwante bedrog en korrupsie wat vererger en goeie regering in die provinsie in die wiele ry.
Twee verkeersbeamptes, van 30 en 38, is op Stilfontein in hegtenis geneem nadat hulle na bewering R2 000 se omkoopgeld gevra het van ’n motoris wat in hegtenis geneem is weens beweerde dronkbestuur en nog ’n oortreding.
Tinyiko Mathebula, Noordwes Valke-woordvoerder, sê die twee is Dinsdag (24/10) weens beweerde korrupsie aangekeer.
Die klaer is na 'n polisiekantoor geneem, waar hy glo R1 000 aan die beamptes betaal het. Die klaer het ook beweer dat die beamptes nog 'n R1 000 geëis het wat hy gereël het om later te betaal.
Die Valke is hieroor ingelig en ’n lokval is gestel. Die verdagtes is gevang kort nadat hulle R2 000 kontant van die klaer aanvaar het. Albei sal Woensdag (25/10) in die landdroshof in Stilfontein verskyn op aanklagte van bedrog.

