Central SA
Vrou gestraf weens bedrog met banklening; medebeskuldigdes in hof verwag─── HEIDRÈ MALGAS 08:00 Fri, 27 Oct 2023

“Die bevestiging van indiensneming, deur ’n ander medebeskuldigde, was ook bedrieglik.”
Die medebeskuldigdes van ’n Oos-Vrystaatse vrou wat skuldig bevind is aan en gevonnis is weens bedrog, sal Vrydag in die Harrismith-streekhof verskyn.
Lindiwe Sibongile Ntshingila (33) het in die Bethlehem-streekhof verskyn waar sy skuld erken het op aanklagte van bedrog nadat sy ’n lening by ’n bank aangegaan het met vervalsde dokumente. Sy het ’n vonnis van ses jaar tronkstraf gekry.
Die Hawks-woordvoerder, Christopher Singo, sê die tronkstraf is volledig opgeskort vir vyf jaar. Dit is op voorwaarde dat sy nie gedurende die opgeskorte vonnisperiode weer oortree nie.
Capitec se ondersoek het bevind die salarisstrokie en Standard Bank-rekeningstaat was vervals. Foto: Capitec
“In Januarie 2018 het Ntshingila, saam met haar medebeskuldigde, Simphiwe Makhathini, 42, 'n nuwe rekening en persoonlike lening aangevra by die Capitec-bank. Die bank het die lening van R134,937.10 goedgekeur,” sê Singo.
Hy het bygevoeg 'n primêre ondersoek deur Capitec het bevind die salarisstrokie en Standard Bank-rekeningstaat, wat Ntshingila en Makhathini ingedien het, was vervals.
Hy sê dieper ondersoeke het aan die lig gebring dat hulle indiensneming, bevestig deur 'n ander medebeskuldigde, Buhlebuyeza Mabaso, 34, ook bedrieglik was.
Die Hawks se Ernstige Kommersiële Misdaadondersoekspan in Bethlehem is in kennis gestel om verdere ondersoeke te doen. Ntshingila, Makhathini en Mabaso is op 14 Junie 2021 in hegtenis geneem.
Die verhoor teen Makhathini en Mabaso, wat nie skuld erken het nie, is steeds aan die gang, en hulle word Vrydag (27/10) in die Harrismith-streekhof verwag.