On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Boere in afwagting op reën ná ‘ergste brande’ in Philippolis-distrik

───   KAREN VAN DER BERG 15:28 Mon, 30 Oct 2023

Boere in afwagting op reën ná ‘ergste brande’ in Philippolis-distrik  | News Article
Daar was in ’n stadium sewe brande wat gelyktydig gewoed het. Foto: Philippolis Post/Pieter-Daan Cilliers

“Ons kan nog nie syfers deurgee nie maar daar word vermoed dat derduisende hektaar gebrand het. Daar is ook boere wat honderde vee verloor het.”

Hoewel die koeler en bewolkte weer Maandag (30/10) heelwat verligting bring in die Vrystaat kan dit ongelukkig nie die verwoestende skade wat brande in die provinsie aangerig het, ongedaan maak nie.

In die Suid-Vrystaat en veral Philippolis, het brande die naweek vir drie dae aaneen gewoed en ongekende skade aangerig, duisende hektaar weiding is verwoes en honderde diere het doodgebrand.

Stephan Meyer, die voorsitter van Philippolis se landbouvereniging, sê hulle is steeds besig om die skade van die naweek se brande te probeer bepaal.

Die brand het Vrydagoggend ontstaan toe die weerlig die veld aan die brand geslaan het. Foto: Merle Strauss/Philippolis Post

“Ons kan nog nie syfers deurgee nie maar daar word vermoed dat derduisende hektaar gebrand het. Daar is ook boere wat honderde vee verloor het.”

Die brand het Vrydagoggend ontstaan toe die weerlig die veld aan die brand geslaan het. In ’n stadium het sewe brande gelyktydig gewoed.

“Ons is dankbaar dat omliggende dorpe soos Springfontein en Trompsburg ons kom help het. By Fauresmith het dit ook gebrand en toe hulle brand geblus is, het hulle ons kom help.”

Brande het duisende hektaar weiding in die Philippolis-distrik vernietig. Foto: Facebook/Burre Burger

Meyer sê daar heers ’n groot samehorigheid onder die mense en almal help waar hulle kan en dra skenkings aan of bied weiding aan. Hy sê hulle sit in afwagting op die reën wat voorspel word en hoop dat dit binnekort sal begin reën om verligting te bring.

Jens Friis, inwoner en die redakteur van die Philippolis Post, sê die veldbrande is een van die ergste in die dorp se 200-jarige bestaan.

“Daar word geraam dat tot 30 000 hektaar in Philippolis se omgewing afgebrand het. Van die boere het tot 6 000 hektaar verloor. Daar het die afgelope paar dae brande in 'n wye area in ons omgewing uitgebreek – vanaf Philipstown en Philippolis tot Fauresmith, Springfontein en Bethulie.”  

Friis sê die boere hardloop steeds rond en dit gaan rof. Hulle is gedaan.

Ongekende skade is die naweek op Philippolis aangerig met verwoestende veldbrande. Foto: Facebook/Burre Burger

• Intussen is ’n noodfonds begin om boere van die omgewing te help. Vir meer inligting daaroor kontak Madelein Grobbelaar by 082 425 8556.

OFM Nuus/Karen van der Berg 


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.