Central SA
Geloofsprong in Parys bring hoop vir kinders─── ELSABÉ DE JAGER 10:35 Tue, 31 Oct 2023
Dié dapper non het haar sprong met vlieënde vaandels voltooi.
’n Dapper non van Kroonstad wat vroeër vanjaar waagmoed tot nuwe hoogtes gevoer het, het lig gebring in vele kinders se lewe.
Sr. Marie McLoughlin (83), bekend vir haar omgee en liefde vir haar medemens, het op 13 Mei deelgeneem aan ’n tandem-valskermsprong, ’n geloofsprong soos sy dit noem, in Parys.
Dit was deel van ’n geldsinsamelingsprojek vir die Notre Dame St Peter’s School (NDSPS) op Kroonstad. NDSPS, met leerders van gr. R tot gr. 12, is vir sy voortbestaan afhanklik van skoolgeld, insamelings en ’n beperkte subsidie van die Departement van Onderwys.
Nodeloos om te sê, dié dapper vrou het haar sprong met vlieënde vaandels voltooi. Die droom om ’n instandinghoudingsfonds, asook ’n voedingsfonds vir NDSPS tot stand te bring, het ’n werklikheid geword.

Koue winterdae is verdryf met ’n warm koppie sop. Foto: Getty Images
Sr. Marie vertel dankbaar die geldelike skenkings, asook die 100 kg soppoeier wat ’n weldoener afgelaai het, het haar in staat gestel om daagliks deur die koue winter ’n warm koppie sop aan 500 leerders uit te deel.
Met die Rotariërs se hulp is ’n groentetuin op die skoolterrein aangelê. Binne die afsienbare toekoms sal leerders ook groente uit dié tuin teen ’n afslagprys kan koop. Sy sê die plan is om die kinders te onderrig in die uitleg van so ’n tuin, sodat hulle tuis hul eie tuin kan aanplant. Sodoende sal die hele familie kan baat vind by die projek.
Vir finansiële volhoubaarheid van hierdie projek sal groente eersdaags ook aan die publiek teen ’n verminderde prys aangebied word.

Sr. Marie McLoughlin (83) het haar goedheid aan ander tot nuwe hoogtes gevoer. Foto verskaf
Die leerders, hoofsaaklik uit die nabygeleë woonbuurt Maokeng in die Kroonstad-omgewing, staan bankvas en dankbaar agter dié non, wat vir hulle met die durf van jeugdigheid ’n sprong na ’n blinker toekoms gewaag het.
