On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Sonder Wyk 1 kan Emfuleni selfs minder die mas opkom – VF Plus

───   MORNÉ VAN ROOYEN 16:37 Tue, 31 Oct 2023

Sonder Wyk 1 kan Emfuleni selfs minder die mas opkom – VF Plus | News Article
Emfuleni-munisipaliteit is sinoniem met agteruitgang en swak dienslewering. Foto verskaf

“Dit was bloot uit ’n finansiële oogpunt, ’n finansiële besluit tot voordeel van die munisipaliteit hier.”

Die ses VF Plus-raadslede in die Emfuleni-munisipaliteit kom onder skoot omdat hulle – nes die ANC, EFF en ’n hand vol ander partye – ten gunste van ’n verslag gestem het dat Wyk 1 van dié Vaaldriehoekse munisipaliteit nie na die aanliggende Midvaal-munisipaliteit oorgedra word nie.

Wyk 1, wat bestaan uit Drie Riviere en omliggende gebiede in die ooste van Vereeniging, se inwoners dra van al 45 wyke in Emfuleni die meeste tot dié ANC-beheerde plaaslike owerheid se inkomste by.

“Die inwoners van Wyk 1 kan nie meer funksioneer op leë beloftes nie,” sê hul wyksraadslid, Dalene Venter (DA). “90% van Drie Riviere se gemeenskap ondersteun die aansoek om oor te gaan na Midvaal-munisipaliteit om sodoende aanvaarbare dienslewering te kry.”

Inwoners van die spogbuurt Drie Riviere-Oos, waar hierdie paleis van ’n huis in die mark is vir R4,3 miljoen, verwag meer vir hulle erfbelasting en dienstegeld as wat die ANC-beheerde Emfuleni-munisipaliteit hulle kan bied. Foto: Property24

Maar op ’n raadsvergadering verlede Donderdag (26/10) het net die DA, wat 24 uit die 90 raadslede het, sy stem uitgebring ten gunste van die herafbakening. “Dit gaan hier vir (die ander partye) oor die finansiële implikasie vir Emfuleni omdat Wyk 1 die hoogste inkomste maandeliks gee," meen Venter.

“Ongelukkig voel Wyk 1 se inwoners dat hulle net betaal en geen dienste of baie min kry. Die vraag kan gevra word: Waar is hulle menseregte en demokrasie in die proses?

“Inwoners het nou ook ’n streep getrek en is moeg vir betalings met geen dienslewering meer nie. En die infrastruktuur het totaal inmekaar geval. Hulle kan nie meer saamleef met riool wat gedurig loop in strate, water wat loop en vele ander probleme nie.”

Dalene Venter, DA-wyksraadslid van Wyk 1, sê die gemeenskap het ’n streep getrek en dring aan op beter dienslewering. Foto: Christiaan Cloete/Vaalweekblad

Die VF Plus – een van die agt lede van die Veelparty-handves saam met die DA, IVP, ACDP en nog vier partye – het vir die verslag gestem wat voor die raad gedien het dat Wyk 1 deel van Emfuleni bly.

“Dit was nie ’n emosionele besluit nie en ek weet ek word daaroor uitgehaal,” sê Gerda Senekal, VF Plus-raadslid. “Dit was bloot uit ’n finansiële oogpunt, ’n finansiële besluit tot voordeel van die munisipaliteit hier.”

Sy sê Wyk 1 is nie die enigste Emfuleni-wyk wat gebuk gaan onder swak dienslewering nie; al 45 ly. “Hulle is wel die wyk wat die meeste aan erfbelasting betaal. Daar is wel sewe wyke wat 43% van die totale inkomste van die munisipaliteit opmaak.”

Gerda Senekal is een van die VF Plus-raadslede wat saam met die ANC en EFF gestem het dat Wyk 1 deel van Emfuleni moet bly. Foto verskaf

Senekal meen daar is wel hoop vir Emfuleni, op wie se bankrekening Eskom in Desember beslag gelê het weens agterstallige skuld van R5 miljard. “As die Veelparty-handves ná 2024 se verkiesing ’n koalisieregering in Gauteng kan vorm, kan die provinsiale regering Emfuleni onder administrasie plaas om die regte besluite te neem sodat Emfuleni op die regte pad kan kom.”

As hulle ook ’n koalisieregering saam met onder die DA in Emfuleni kan vorm ná die munisipale verkiesing van 2026, “sal daar ’n baie groot gaping wees in terme van die begroting indien Wyk 1 nou Midvaal toe gaan, want Wyk 1 is die wyk wat die meeste betaal in Emfuleni. 

“Sal die DA dan ’n politiese besluit kan neem om te weet Wyk 1 gaan daai kant toe en ons sal sonder daardie begroting kan sit om Emfuleni reg te ruk?” wonder Senekal.

Die besluit van die Munisipale Afbakeningsraad word binnekort verwag.

OFM Nuus/Morné van Rooyen

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.