Click on the warning image to view this post
Central SA
Dagsorgma van Kroonstad: ‘Video wys nie hele storie’─── 11:38 Wed, 01 Nov 2023
“Ek het hom nie forseer om te eet nie; ek het sy ma gehelp omdat sy my gevra het.”
Die eienaar van ’n dagsorgsentrum op Kroonstad wat ondersoek word nadat ’n video versprei is waarin sy glo kos in ’n driejarige seun se keel afdwing, sê die video “vertel nie wat werklik gebeur het nie”.
Jean-Louise Kachelhoffer, eienaar van Woelwaters-dagsorgsentrum, wat reeds deur sosialemediagebruikers geïdentifiseer is voordat die polisie die voorval begin ondersoek het, het by navraag aan Maroela Media gesê die ma, Leah-Anne Wagstaff, het haar gevra om haar met haar seun te help.
“Ek het hom nie geforseer om te eet nie; ek het sy ma gehelp omdat sy my gevra het.”
Wagstaff, wat in daardie stadium vir die kleuterskool gewerk het, maar intussen bedank het, het die video geneem. Sy het aan Netwerk24 gesê sy het besluit om dit op TikTok te plaas nadat sy probeer het om ’n klag by die polisie in te dien, maar weggewys is.

Kachelhoffer het in reaksie op Facebook gesê “die vrou kan nie haar eie kind in toom hou nie. Sy het haar eie kind so ontstel. Sy was in die klas besig met die kinders, toe wil hy reeds nie eet nie, hy het op sy ma geskree en vir haar gesê om stil te bly en hom uit te los. Dit is toe dat sy my om hulp nader.”
‘Ek sal my vingers stomp baklei vir hierdie skool’
Kachelhoffer sê nadat sy ’n handdoek gekry en sy mond afgevee het, het hy rustig geraak en self al sy kos geëet. “Ek het nog daarna vir hom ’n ‘high five’ en ’n sterretjie gegee en vir hom gesê dat hy goed gedoen het. Sy ma het tot (vyfuur die middag) hier gebly, hier by die skool waar haar kind glo so mishandel word.
“My skooltjie is my hele lewe, ek het dit begin, ek het dit gemaak wat dit vandag is. Ek sal my vingers stomp baklei vir hierdie skool. Die video laat my sleg voorkom maar ek is nie ’n slegte mens nie, ek het niemand probeer seermaak nie.”
Die nuuswebwerf FiND iT beskryf die gebeure in die video soos volg: In die video kan gehoor word hoe ’n vrou ’n kleuter genaamd Jonathan gebied om te eet. Die kind is duidelik ontsteld en naar, waarna die vrou die kos doodeenvoudig in sy mond forseer om te eet terwyl hy huil. Wanneer hy wil opgooi, druk sy sy mond toe.
‘Sy sal nie toelaat dat iets met hom gebeur nie’
Terwyl sy haar hand voor sy mond hou, word sy kop agteroor gedruk terwyl sy sê hy sal niks oorkom nie. Sy sê sy sal nie toelaat dat iets met hom gebeur nie. “Hierdie juffrou kan CPR doen, ek sal jou CPR maar jou kos gaan jy eet vandag.”
Wagstaff het aan Netwerk24 gesê dat Kachelhoffer haar gereeld aan dié soort gedrag skuldig maak. “Ek het baie vinnig agtergekom dat hoe sy met die kindertjies te werk gaan en wat sy met hulle doen, totaal onaanvaarbaar is.”
Sy sê sy het bloot teruggegaan werk toe “vir die kinders se onthalwe, om hulle veilig te probeer hou”.
Sy self word nou gekasty deur negatiewe kommentaar wat sosialemediagebruikers oor haar maak. “Ek wou net gehad het almal moes sien watter monster hierdie vrou is. Kinders word in hierdie vrou se sorg geplaas, haar dagsorgsentrum is nie eens geregistreer nie. Ek wou net hê sy moet vasgetrek word.”
‘Daar is verseker meer agter die storie as wat ons lees’
’n Terapeut wat op die berig deur Maroela Media kommentaar lewer, sê die “hulp” deur die dagmoeder is nie hulp nie. “Indien die kind sekere probleme toon, sou dit die dagmoeder se plig wees om die ouer te verwys na ’n opgeleide berader of terapeut om die onderliggende probleem op te los.
Daar is verseker meer agter die storie as wat ons lees maar dit is nog steeds nie toelaatbaar nie. Selfs die moeder wat dit toegelaat het – dis baie onverantwoordelik en onvanpas om jou kind aan hierdie trauma bloot te stel om ’n punt te maak.”
Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n klag van aanranding nadat die voorval onder hul aandag gebring is. “Die dossier sal ná voltooiing na die direktoraat van openbare vervolging gestuur word vir ’n besluit.
“Die polisie doen ’n beroep op die gemeenskap om nie eie reg te gebruik nie, maar die polisie die nodige ruimte te gee om die saak te ondersoek.”
OFM Nuus/Christine van der Westhuizen Corné/ Daphné, Morné
