Click on the warning image to view this post
Central SA
Veediefstal: Vrystaatse polisie trek verdagtes vas─── KEKELETSO MOSEBETSI 09:13 Thu, 02 Nov 2023
“Vyf verdagtes is in die Lejweleputswa-distrik gearresteer, een in die Thabo Mofutsanyane-distrik, terwyl ’n ander een doodgeskiet is.”
Die Vrystaatse polisie begin die net stywer span om veediefstalsindikate nadat hulle vandeesweek ses verdagtes in hegtenis geneem het, terwyl ’n sewende een dood is.
Vyf verdagtes is in die Lejweleputswa-distrik in hegtenis geneem en een in die Thabo Mofutsanyane-distrik.
Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder in Lejweleputswa, sê drie verdagtes het Dinsdag (31/10) in die landdroshof in Virginia verskyn vir die besit van vermoedelik gesteelde vee nadat hulle Saterdag (28/10) in hegtenis geneem is. Hul saak is vir borgtoginligting tot 6 November uitgestel.

Messe wat na bewering in die veediefstalle gebruik is. Foto: SAPD
Drie vermeende veediewe – Nkosinathi Mdingi (46), Teboho Mphafi (46) en Tshehlakhati Lekhanya (32) – is betrap terwyl hulle koeie op een van die plase by Virginia geslag het.
“Die Virginia Landelike Veiligheidskoördineerders en lede van die Odendaalsrus Veediefstal en Bedreigde Spesies-eenheid het die vermeende veediewe ingewag. Die verdagtes is later by die rivieroewer opgemerk waar hulle besig was om ’n koei te slag. Die lede het vinnig gereageer en daarin geslaag om twee verdagtes in hegtenis te neem, die derde verdagte het weggehardloop.”
Thakeng sê die polisie het by die toneel opgedaag en met die hulp van gemeenskapslede is die derde verdagte naby Goosen-plaas opgemerk en in hegtenis geneem. Een geslagte koei, drie Brungusbeeste, insluitend ’n kalf, twee koppe van Brungusbeeste, messe, pangas en tuisgemaakte spiese is gevind. Die eienaar van die vee van die plaas Loidgedaght in Welkom het sy beeste geïdentifiseer nadat sewe op sy plaas gesteel is.
Thakeng sê twee ander verdagtes is in 'n afsonderlike voorval in Virginia in hegtenis geneem nadat lede van die Virginia Landelike Veiligheidskoördineerders inligting ontvang het oor mense wat Woensdag (1/11) beeste van Woolaways in die Harmony Saaiplaas-rigting gejaag het. Twee verdagtes is omstreeks 07:40 in ’n oop veld gesien en hulle het begin weghardloop toe hulle die polisie sien.

Die koeie en kalwers waarop beslag gelê is in Virginia. Foto: SAPD
Die Virginia Landelike Veiligheidskoördineerders en kommunale boere het na die woongebied gejaag waar twee verdagtes in hegtenis geneem is. Twaalf Bonsmara-koeie en twee kalwers ter waarde van R155 000, met sigbare handelsmerke, is gevind nadat die spore gevolg is. Die vee-eienaar is opgespoor en het sy beeste positief uitgeken. Die verdagtes van 27 en 55 jaar oud sal aangekla word vir die besit van vermoedelik gesteelde vee.
Intussen het Mmako Mophiring, die polisiewoordvoerder in die Thabo Mofutsanyane-distrik, gesê die mees gesoekte veediefstalverdagte is noodlottig gewond, terwyl ’n ander een Woensdag (1/11) met ’n vuurwapen gevind is. Dít nadat die polisie verdagtes by ’n huis in Kudumane kon opspoor.
Mophiring sê een van die twee verdagtes wat vir veediefstal in Phuthaditjhaba gesoek word, het weggehardloop. Hy is deur die polisie agtervolg toe hy deur die rivier, die berg op gegaan het en een van die lede het daarin geslaag om hom vas te trek.
“Daar word beweer dat die verdagte die lede se vuurwapen gegryp het. Maar die opgeleide skut wat ondersteuning gegee het, het twee skote op die verdagte gevuur en hy is noodlottig gewond.”
Mophiring sê die polisie het een ongelisensieerde vuurwapen met ammunisie onder ’n matras gevind in die huis waar verdagtes gevind is en verdere inligting het die polisie na ’n kraal geneem waar nog ’n vuurwapen opgegrawe is. Die 54-jarige verdagte is in hegtenis geneem vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie. Hy sal binnekort in die hof verskyn terwyl albei vuurwapens vir ballistiese toetse gestuur is.

’n Verdagte is vasgetrek weens die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen. Foto: SAPD
“Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat die oorledene twee sake van moord in Phuthaditjhaba gehad het en in besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen was. Die gemeenskap van Kudumane het gesoek vir die oorledene se bloed omdat hulle beweer het dat hy hulle terroriseer, maar die span het daarin geslaag om die situasie onder beheer te bring.”
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi Corné/Daphné
