Central SA
Derde brand lê huis in Potchefstroom in puin─── KAREN VAN DER BERG 15:23 Thu, 02 Nov 2023
“Dit was ’n baie deurmekaar dag en ons is self nog nie seker wat gebeur het nie.”
Dit klink amper asof dit nie waar kan wees nie, maar ’n derde woonhuis die afgelope vyf weke is in Potchefstroom in puin gelê. Die egpaar, Poppie en Elouise Esterhuizen, se huis in Riverstraat het Donderdagoggend (26/10) afgebrand.
Cindy Esterhuizen, hul skoonsuster wat op dieselfde perseel woon, se eiendom het nie soveel skade opgedoen nie. Sy sê daar is nog nie vasgestel wat die brand veroorsaak het nie, maar die forensiese span van die brandweer stel ondersoek in.
Haar skoonsusters is nog te geskok om met die media te praat. “Dit was ’n baie deurmekaar dag en ons is self nog nie seker wat gebeur het nie,” sê Cindy.

Die Esterhuizen-egpaar het alles in die brand verloor. Foto verskaf
Die skade is ontsettend groot. “Ek kan dit nie eers vir jou verduidelik nie. Alles het gebrand. Dit wat nie gebrand het nie, het waterskade gekry soos daar probeer is om die vuur te blus.”
Sy het ook nie besef dat soveel dinge kan krom trek van ’n brand nie. ”Elke pot het kromgetrek. Dit is ondenkbaar.” Die egpaar bly nou in ’n Wendyhuis op die perseel totdat hul huis herbou is.
Cindy sê hulle het baie om voor dankbaar te wees. “Die gemeenskap het ons regtig bygestaan. Dit is wonderlik om te sien. Ons het skenkings gekry vir alles wat belangrik is.”

Die huishoudelike toestelle het krom getrek in die brand. Foto verskaf
Sy sê ’n mens dink nooit mense kan so saamstaan nie. “Dit het ons oë bietjie oopgemaak vir die goeie goed wat nog gebeur.” Sy wil ook die Predators- en Brotherhood-motorfietsklub en Wild Boar Pub & Grill uitsonder wat die familie baie ondersteun.
OFM het vroeër berig oor Willem en Marie van der Merwe en hul kinders, Jaco en Klara, wie se huis in Kockstraat op 21 September heeltemal afgebrand het.
‘Ons help mekaar waar ons kan’
Op Dinsdag (24/10) het Jacobus (28) en Nedine (28) Vermaak se meentuis in Hattinghstraat, Bailiepark, afgebrand. Hulle is skaars 'n jaar getroud.
Cindy sê hulle het al na mekaar uitgereik en skenkings uitgeruil. “Ons help mekaar waar ons kan met dinge waarvan ons te veel het.”
OFM Nuus/Karen van der Berg Daphné, Morné
