Central SA
Motorfietsryers in Goudveld gaan weer kinderharte bly maak─── ZENANDE MPAME 07:00 Sat, 04 Nov 2023
“Dit is elke jaar ’n groot ervaring vir die kinders maar bring trane in die oë van die grootmense en ons as motorfietsryers.”
Die Goudveld-motorfietsvereniging hou Saterdag (4/11) hul jaarlikse dag vir kinders en sal vroeë Kersgeskenke in Welkom uitdeel.
Die vereniging bestaan uit verskeie motorfietsklubs en sal ook aan die kinders kos, waterbottels, kolwyntjies en sakke gee.
Nege jeugsorgsentrums en skole sal in die Goudveld besoek word. Dit sluit in Huis Emmanuel, House of Hope, Welkom, Merafong, Welriedal, Maanblom Jeugsorgsentrums, die Sonskynprojek, House of Peace en die Amari-skool.

Die Goudveld-motorfietsvereniging het verlede jaar ook geskenke uitgedeel. Foto verskaf
Die kinders kan ’n besoek van Kersvader, Spongebob en Olaf van die rolprent Frozen verwag.
“Die Agape-tehuis vir gestremdes sal ook deur die Goudveld-motorfietsvereniging besoek word. Hierdie jaar het ons 200 kinders in die tehuis gehad,” sê Christelle Christowitz, ’n lid van die Goudveld-motorfietsvereniging.
“Dit is elke jaar ’n groot ervaring vir die kinders maar bring trane in die oë van die grootmense en ons as motorfietsryers.”

Die Goudveld-motorfietsvereniging doen baie vir liefdadigheid. Foto verskaf
Lede van die vereniging samel geld deur die loop van die jaar in maar van die ondernemings lewer ook ’n bydrae.
OFM Nuus/Zenande Mpame daphné/corne
