On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Groot vreugde in Philippolis oor reën ná verwoestende veldbrande

───   KAREN VAN DER BERG 15:50 Mon, 06 Nov 2023

Groot vreugde in Philippolis oor reën ná verwoestende veldbrande | News Article
Liesl Jacobson, van die plaas Wolwekop by Phillippolis, het die mooi reënfoto’s geneem.

“Die groen gras wat begin uitloop in die swart wêreld is ’n baie welkome gesig.”

Boere in die Philippolis-distrik is verheug oor die goeie reënval van nagenoeg 50 mm die naweek. Die welkome reën volg op die vernietigende veldbrande verlede naweek wat as een van die ergste veldbrande in dié dorp se 200-jarige bestaan bestempel word.

Stephan Meyer, die voorsitter van die Philippolis-landbouvereniging, sê die amptelike syfers wat hulle van Vrystaat Landbou ontvang het, is dat 68 000 hektaar die laaste naweek in Oktober verwoes is. Daar is ook duisende diere dood en baie skade is aan infrastruktuur aangerig.

Hy sê die hoeveelheid hektaar sluit groot dele soos Fauresmith en dele van Trompsburg in. Dit kom dan daarop neer dat tussen 40 000 en 50 000 hektaar in Philippolis self gebrand het.

Die groen gras begin uitloop op die plaas Wolwekop by Philippolis se verbrande velde. Foto: Liesl Jacobson

Jens Friis, inwoner en die redakteur van die Philippolis Post, sê die reën van die naweek is iets om oor verheug te wees.

“Dit is uiters welkom ná die ramp wat hier plaasgevind het.” Die eerste reën het Vrydag uitgesak en Sondag het dit weer gereën.

Friis sê die boere is steeds besig om te probeer herbou ná die verwoesting. “Die skade moet ook nog oral bepaal word. “Maar die groen gras wat begin uitloop in die swart wêreld is ’n baie welkome gesig.”

• Intussen is ’n noodfonds begin om boere van die omgewing te help. Vir meer inligting daaroor bel Madelein Grobbelaar by 082 425 8556.

OFM Nuus/Karen van der Berg 


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.