Central SA
Sasolburg: Herrie bars los oor boom wat ná ongelukke afgekap is─── KAREN VAN DER BERG 15:34 Tue, 07 Nov 2023
“Ek verstaan nie hoekom mense vir ons kwaad is nie. Die boom was nooit by ons ’n kwessie nie.”
’n Boom wat langs die R57-afrit net buite Sasolburg afgekap is, het ’n groot herrie veroorsaak.
Sommige inwoners meen die boom moes afgekap word omdat twee jong mense onlangs in afsonderlike motorongelukke daar gesterf het. Ander reken weer dit was heeltemal onnodig. Groot meningsverskille hieroor het veral op sosiale media losgebars.
‘Sy linkerbeen is twee maande ná die ongeluk geamputeer’
Nicky Pretorius se seuns Nicky (22) en Michael (toe 21) was op 28 Junie in ’n motorongeluk by die boom betrokke. Nicky het die dag ná die ongeluk in die Sasolburg-hospitaal gesterf. Michael is met verskeie beserings in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein opgeneem. Sy linkerbeen is twee maande ná die ongeluk geamputeer.
Gilene Groenewald het die nag van 28 September op dieselfde plek gesterf toe haar bakkie die boom getref het.
Nicky sê hulle het geen idee wie die boom afgekap het nie. Hulle het ook maar net daarvan gehoor. “Dit was ook nie ons idee of keuse nie.”

Michael Pretorius se been moes ná die ongeluk geamputeer word. Foto: Nicky Pretorius
Hy sê die boom was in ’n sekere mate ’n troos. “Dit was immergroen, reg deur die winter en dit was eintlik baie mooi. Al die ander bome se blare was weg. Ek verstaan nie hoekom mense vir ons kwaad is nie. Die boom was nooit by ons ’n kwessie nie.”
Vaalweekblad berig talle mense, lede van politieke partye en plaaslike gemeenskapsorganisasies het die laaste weke gedreig om die boom te gaan verwyder as die owerheid dit nie self doen nie. Dis ’n raaisel wie uiteindelik voorverlede week die boom afgekap het.
‘Emosioneel is dit ’n baie rowwe pad’
Intussen maak Michael goeie vordering ná die ongeluk. Hy het weer begin gewig optel en sy eetlus is terug.
“Hy is al baie beweeglik op die een been en kom baie goed reg met die krukke. Hy doen rehabilitasie saam met ’n biokinetikus en vorder goed.”
Nicky sê emosioneel is dit ’n baie rowwe pad. “Dit is wild. Ek sou nooit kon dink om ’n kind te verloor, is so moeilik nie. Ons treur en huil nog elke dag. Ek dink ook nie dit is iets wat baie vinnig makliker gaan word nie.”
Hy sê hulle vat dinge maar dag vir dag.
OFM Nuus/Karen van der Berg Corné/Daphné/Morné
