Central SA
Grappies stroom in nadat Springbokbus in Aliwal-Noord onklaar raak─── 16:12 Tue, 07 Nov 2023
“Ten minste kry die mense van Aliwal-Noord ’n soewenier van die Bokke.”
Die Springbokke se toerbus het gister (6/11) onbepland in Aliwal-Noord in die Noordoos-Kaap “stilgehou” nadat die bus se remme glo onklaar geraak, deur ’n heining gebars en in ’n tuin tot stilstand gekom het. Daar was geen Springbokke op die bus nie.
Benewens die busbestuurder was daar twee ander mense aan boord en al drie is ongedeerd. Die bus was van Oos-Londen na Johannesburg op pad nadat die Springbokke hul segetoer Sondag in die Oos-Kaap afgesluit het.

Daar was geen Springbokke op die bus nie. Foto: Facebook
Netwerk24 berig die bus het kort ná 19:00 in die erf van Vida Jordaan (74) in Queens Terrace-straat tot stilstand gekom. Haar seun, Pierre, sê rotse wat op die sypaadjie gepak is, het die bus se spoed gebreek en ’n erger ongeluk voorkom.
“My ma het ’n harde slag gehoor en my gebel, waarna ek na haar huis is.” Die heining is vandag (7/11) herstel en die toneel is opgeruim.
Die pad was nat ná swaar reënval Maandagaand. Die bestuurder wou rem maar die remme het blykbaar nie gewerk nie. Die bus is ná die ongeluk deur ’n insleepdiens na Johannesburg geneem.
DARREN MAULE is your official MC on the Springbok Bus joined by CARMEN REDDY! They are coming to you LIVE, giving you all the updates and behind-the-scenes. ??????
— East Coast Radio (@ecr9495) November 4, 2023
KZN's NO 1 HIT MUSIC STATION BRINGING YOU THE LATEST AND MOST RELEVANT CONTENT from the TROPHY BUS ????
???? Join… pic.twitter.com/BaQu41IHCh
Intussen het sosialemediagebruikers die humor in die situasie gesien en kon nie help om die spot daarmee te dryf nie:
“Wel, ten minste kry die mense van Aliwal-Noord ’n soewenier van die Bokke af,” skryf Adriaan Arrie Nieuwenhuizen op Facebook. “Dis al manier hoe die Boktoer Sentraal SA besoek,” sê Stephan Steyn.
‘Selfs die bus is moeg, dit moet nou rus’
“Die Bokke het hierdie een verloor,” was die insleepdiens Fronies Towing van Aliwal-Noord se kommentaar.
Op X (voorheen Twitter) het die kommentaar gewissel van “selfs die bus is moeg, dit moet nou rus,” tot bespiegelinge of die bus gebreek het weens die “oormatige rugby-grootsheid wat dit moes dra”.
Sommige suurpruime het die ongeluk daaraan toegeskryf dat die Bokke nie Limpopo of Gqeberha besoek het nie, terwyl die meeste dankbaar is dat die spanlede nie op die bus was nie en dat niemand beseer is nie.
OFM Nuus/Christine van der Westhuizen Corné/Morné
