Central SA
EFF ondersteun familie van vermoorde man in Brits─── 08:37 Wed, 08 Nov 2023

Die beskuldigdes sal op 12 Desember weer in die landdroshof in Brits op aanklag van moord verskyn.
Die EFF in Noordwes sê hy gaan die familie van Dumisani Phakathi (45) ondersteun. Phakathi is glo in September deur boere in die omgewing van Mmamogale Skaarl naby Brits vermoor.
Amanda Funani, polisiewoordvoerder, sê die Assen-polisie het op 17 September omstreeks 02:00 ’n roetinepatrollie in Kameeldrift langs die R511 gedoen toe hulle ’n verdagte Nissan-bakkie opgemerk het. Hulle het dit voorgekeer en Phakathi se liggaam agterop gevind, bedek met plastieksakke.
Die beskuldigdes, Louis Coetzee (47), Jaco Kemp (45), en Gert van der Westhuizen (39), het hom glo aangerand omdat hy water op ’n plaas wou gaan haal. Van der Westhuizen is ’n dag later op die plaas in hegtenis geneem en op borgtog van R5 000 vrygelaat.
EFF North West statement on the ruthless murder of Dumisani Phakathi by three white male racists, namely-Luis Coetzee, Jaco Kemp and Gert van der Westhuizen in Mmamogale Skraal, Brits. pic.twitter.com/gEp2WCqbbC
— EFF NORTH WEST (@EffNorthwest) November 7, 2023
Fanon Moema, woordvoerder van die EFF in Noordwes, het aan OFM Nuus gesê Phakathi is van Pongola in KwaZulu-Natal en het 'n klein pluimveeonderneming in Mmamogale Skaarl bedryf. Hy sê die familie het die EFF genader vir ondersteuning omdat hulle nie geld het om die hofsaak te kan bywoon nie. Die beskuldigdes sal op 12 Desember weer in die landdroshof in Brits verskyn.
Moema sê hulle is ingelig dat die beskuldigdes glo die gemeenskap terroriseer. Hy sê hulle sal seker maak dat die familie van die oorledene geregtigheid kry en dat die polisie die ondersoek na die beste van hul vermoë doen.
OFM Nuus/Joba Matsheng Daphné/Corné