Central SA
Man, vrou kry lewenslank vir verkragting, moord op meisie (8)─── TSHEHLA KOTELI 09:05 Wed, 08 Nov 2023
“Albei beskuldigdes se name word in die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders opgeneem en hulle mag lewenslank nooit met kinders werk nie.”
'n Man en vrou is in die hooggeregshof in Welkom en Bloemfontein vier keer lewenslange vonnisse opgelê vir die verkragting en moord op Bokamoso Shabe (8).
Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder van die Vrystaat, sê Stompi Motsika Rapuleng (48) is in die hooggeregshof in Welkom op vier aanklagte gevonnis. Vir verkragting en moord het hy twee lewenslange vonnisse gekry. Vir ontvoering en afpersing is hy onderskeidelik agt en vyf jaar tronkstraf opgelê. Sy vonnisoplegging het plaasgevind terwyl hy op parool was vir ’n moord wat hy in Clarens gepleeg het.
Lerato Merriam Khitsane (46) is in die hooggeregshof in Bloemfontein op vier aanklagte gevonnis. Sy is ook twee keer lewenslank gevonnis vir verkragting en moord, 15 en 5 jaar tronkstraf vir onderskeidelik ontvoering en afpersing.
Khitsane het op 21 Junie 2021 Shabe uit die Mmantshebo Primary School in Thabong, Welkom, gelok. Sy het haar voorgedoen as ’n vriendin van Shabe se ma wat klere verkoop.
Khitsane het tydens die ontvoering die motor bestuur. Shabe se verdwyning is dieselfde dag by die polisie aangemeld. Later is die Shabe-gesin gekontak en ’n losprys van R50 000 is vir haar vrylating geëis.
'Hulle is Nigeriërs en as die losprys nie betaal word nie, sal die kind verkrag en vermoor word'
“Hulle het tydens die onderhandelinge aan die familie gesê hulle is Nigeriërs en as die losprys nie betaal word nie, sal die kind verkrag en vermoor word.”
Die gesin en die ontvoerders het tot 24 Junie 2021 met onderhandelinge voortgegaan en uiteindelik is die losprys tot R3 000 verlaag. Die gesin het nie die losprys betaal nie en die polisie se ondersoek het dieselfde dag hulle na Rapuleng gelei. “Met sy inhegtenisneming het die polisie haar liggaam toegedraai in ’n kombers naby die pad in ’n oop stuk veld tussen Riebeeckstad en Thabong gevind.”
Albei beskuldigdes se name word in die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders opgeneem en hulle mag lewenslank nooit met kinders werk nie.
AO. Bertus Olivier, ondersoekbeampte, misdaadintelligensie en ander gespesialiseerde eenhede, soos Welkom K9-eenheid en die Welkom-blitspatrollie en ander belanghebbendes, is geloof vir hul optrede om die twee beskuldigdes aan te keer.
OFM Nuus/Tshehla Koteli Daphné/Corné
