On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Hou jou lyf speurder, help fietsdiewe in Bloemfontein identifiseer – VIDEO’S

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 09:09 Wed, 08 Nov 2023

Hou jou lyf speurder, help fietsdiewe in Bloemfontein identifiseer – VIDEO’S | News Article
Skermgreep van die vermeende fietsdiewe.

“Jip, dis ons fietse daai!”

Helder oordag stap die fietsdiewe in die noorde van Bloemfontein doodluiters met hul buit straataf – te voet, want die gesteelde fietse se wiele is pap.

“Ons drie bergfietse is Vrydag (3/11) deur die loop van die oggend uit ons lapa gesteel. Lemmetjiesdraad bo-op die muur aan die agterkant van die erf is met ’n ‘bolt cutter’ geknip, asook die kettings waarmee die fietse aan die lapa se pale vasgesluit was,” ping die boodskap Maandagaand op Normandielaan, Bayswater, se WhatsApp-groep. 

“’n Selfoon van een van my werkers is uit sy rugsak in die werkswinkel gesteel. Kontak my asb. indien iemand enigiets suspisieus opgemerk het in die dienspad agter die huise.”


Minder as ’n uur later stuur ‘n ander hulpvaardige inwoner vier video’s op die groep. “Dalk is daai twee van jou fietse en die ander fiets is saam met een van die ander laaities. Hulle het uit Ryk Tulbach (wes) gekom en het af in Ryk Tulbach (oos) beweeg.”

“Nie een van hulle het ’n ‘bolt cutter’ by hulle nie ... of nie wat ek kan sien nie. Dalk het hulle die fietse in die veld gekry omdat die dief net een wou hê ... of dalk werk hulle saam met iemand anders. Dis net die outjie in die rooi wat dieselfde persoon is op al die tye.”


“Jip, dis ons fietse daai!” kom die antwoord. “Die vermetelheid…” laat weet ’n ander.

Bloemfontein se inwoners sien noodgedwonge al meer na mekaar se veiligheid om deur sosiale media te gebruik. 

Oor die land heen staan gemeenskappe op teen die euwels van misdaad deur tegnologie in te span. Sosiale media word selfs gebruik om vullisverwydering te koördineer, of opgewonde te laat weet dat die vullistrok ná weke aan die een punt van die straat begin laai het en jy moet skarrel. 

Soms dat almal se krag inderdaad af is en dat jy nie alleen in ’n penarie sit nie. Of dat ’n vreemdeling besig is om sy vullis op die middelman af te laai net nadat die trok verby is…


Die inwoner was by Navalsig-polisiekantoor om die diefstal van die bergfietse en selfoon aan te meld. Hy is besig om 'n volledige inventaris van sy werkswinkel na te gaan vir versekeringsdoeleindes. Indien jy een van die vermeende fietsdiewe herken, kontak die Navalsig-polisiekantoor of Wyk 44 se DA-raadslid, Selmé Pretorius.   

Wetstoepassingsagentskappe wêreldwyd wend hulle deesdae tot tegnologiese vooruitgang en sosiale media om misdadigers te help opspoor. Suid-Afrika is nie anders nie. Van buurtgroepe wat WhatsApp-gemeenskappe stig, tot die SAPD-misdaadintelligensie wat verdagte profiele vanaf Facebook bou, sosiale media is ’n kritieke hulpmiddel in die bekamping van misdaad.

“Twee mense in Normandie steel drade…” ping die volgende boodskap.

OFM Nuus/Corné Greyvenstein  Daphné/Morné

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.